Skip to content

Mediaverklaring: Geopende Deure Suider-Afrika vier sy 50ste bestaansjaar

Vyftig jaar van diens aan vervolgde Christene

Geopende Deure Suider-Afrika vier op Maandag, 10 Mei 2021, sy 50ste bestaansjaar. Dié sendingsorganisasie werk die afgelope 50 jaar saam met die Kerk in Suider-Afrika om vervolgde Christene in talle lande regoor die wêreld te versterk en te ondersteun.

Geopende Deure Suider-Afrika is deel van die Geopende Deure Internasionaal-bediening, wat vervolgde Christene in meer as 65 lande regoor die wêreld bystaan met die lewering van Bybels en Christelike literatuur, besoeke aan vervolgde Christene, dissipelskap en opleiding, noodleniging aan slagoffers van vervolging en natuurrampe, en die verkondiging en bevordering van bewustheid deur voorspraak.

Geopende Deure Internasionaal is in 1955 deur Broer Andrew, ʼn Hollandse sendeling, gestig. Broer Andrew het talle reise in sy Volkswagen Beetle onderneem om Christene agter die Ystergordyn te bemoedig en Bybels na Oos-Europa te smokkel. Vandag is sy bediening uitgebrei na meer as 65 lande.

As deel van die 50ste feesvieringe, hou Geopende Deure Suider-Afrika op Saterdag, 8 Mei, ʼn spesiale byeenkoms by Northcliff Union Church in Randburg. ʼn Propvol feesprogram word beplan wat insluit lofprysing en aanbidding, inspirerende boodskappe en getuienisse uit die vervolgde Kerk. Die program sluit ook ʼn lewendige optrede deur die gewilde sanger Loyiso Bala, wat Geopende Deure se ambassadeur is, in.

Indien jy by hierdie bediening betrokke is, nuuskierig is oor die werk in die vervolgde Kerk of honger is vir ʼn geestelike byeenkoms – maak seker dat jy nie hierdie onvergeetlike feesvieringe mis nie. Meer inligting is beskikbaar by www.opendoors50.co.za.

Nederige begin

In Maart 1971 het Francis Grim van Hospital Christian Fellowship Broer Andrew na Suid-Afrika genooi en vir hom ʼn landwye toer gereël om oor sy werk te praat. Broer Andrew het Suid-Afrika ʼn paar weke later weer besoek om die vestiging van ʼn Geopende Deure-bediening in Suider-Afrika met ʼn groep plaaslike kerkleiers te bespreek.

ʼn Amptelike raad is vir die nuwe organisasie verkies en in Julie 1971 is Geopende Deure Suider-Afrika se eerste kantoor in die Johannesburgse huis van dominee Koos Driescher, ʼn predikant in die Nederduits Gereformeerde Kerk, geopen. Die eerste 12 000 nuusblaaie is met behulp van vrywillige werkers gepos om Geopende Deure aan die publiek bekend te stel.

Broer Andrew se topverkoperboek, God se Smokkelaar, is later daardie jaar in Afrikaans vertaal. Dit is ook in 1975 in Zoeloe vertaal.

Oorsese sendingreise

Geopende Deure Suider-Afrika het sy eerste oorsese uitreik in 1972 gedoen, toe ʼn groep van 70 jong Christene van Suid-Afrika die Olimpiese Spele in Munich, Duitsland, bygewoon het vir ʼn evangelistiese uitreik.

Dit is in 1973 opgevolg met ʼn toer na die Verre Ooste om Christene in 16 lande te besoek en te versterk, en om finansiële bydraes van Suid-Afrikaanse Christene aan hulle te oorhandig. Vandag is toere na die vervolgde Kerk ʼn wesenlike deel van die Geopende Deure-bediening.

Nog ʼn hoogtepunt was die “Love Africa”-konferensie, wat in Mei 1978 in Malawi gehou is. Altesaam 250 afgevaardigdes het hierdie konferensie bygewoon en dit het talle deure na ander Afrikalande geopen. Talle streekskonferensies is gevolglik in ander Afrikalande gehou.

Ander geskiedkundige hoogtepunte

Verskeie uitstaande projekte is oor die jare bekendgestel, waaronder Projek David om ongeletterde mense in Angola en Mosambiek te help om die Bybel se boodskap te ontvang en Projek Timothy, wat gehelp het om inheemse godsdienstige leiers op te lei om die Bybel te verstaan en daaroor te kommunikeer.

In Maart 2005 het die Suid-Afrikaanse hoofkantoor na Randburg verskuif – die perseel waarvandaan dit vandag nog bedryf word. Sedertdien was ander hoogtepunte Projek “Wave of Hope”, wat bekendgestel is om slagoffers van die tsoenami in die Verre Ooste te help; Projek “Y-me”, wat die jeug in die Midde-Ooste ondersteun het; Projek “Desert Light” om vervolgde Christene in die Moslemwêreld te ondersteun; en mees onlangs, “Never Alone” om vervolgde Christene regoor die wêreld te verseker dat hulle nie alleen is in hul stryd nie.

Suksesverhaal van die Suid-Afrikaanse basis

Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, sê die Suid-Afrikaanse basis se sukses sou nie moontlik gewees het sonder die ondersteuning van getroue vennote en vrywilligers nie. Hulle het deur die jare met hul gebede en ondersteuning bankvas agter hul vervolgde familie in Christus gestaan.

“Ons wil al ons vennote en vrywilligers bedank vir hul gebede en ondersteuning deur die jare. Ons suksesverhaal sou nie moontlik gewees het sonder hul hulp nie.

“Wanneer ek terugkyk na die afgelope 50 jaar, is die Here se genade en getrouheid duidelik in die manier waarop ons bediening oor die jare gegroei het – van ʼn nederige begin tot ʼn sterk bediening wat ons broers en susters regoor die wêreld met gebede en ondersteuning help. Hierdie mylpaal-herdenking getuig van ʼn halfeeu se diens en ondersteuning aan die vervolgde Kerk in alle uithoeke van die wêreld.

“Ons is in verwondering teenoor die Here vir Sy voorsiening en leiding in Geopende Deure se bediening om ons vervolgde familie in Christus te ondersteun en te versterk. Hy het ons gehelp om vir 50 jaar van genade as die Liggaam van Christus te leef en die vervolgde Kerk te dien,” sê hy.

Wees deel van die verjaardagvieringe!

Geopende Deure gaan hierdie mylpaal-herdenking vier met ʼn spesiale byeenkoms by Northcliff Union Church in Randburg op Saterdag, 8 Mei, van 08:30vm tot 12:30nm. Die propvol feesprogram sluit aktiwiteite soos lofprysing en aanbidding, inspirerende boodskappe en getuienisse uit die vervolgde Kerk in. Nog ʼn hoogtepunt op die program is ʼn lewendige optrede deur die gewilde sanger Loyiso Bala, wat Geopende Deure se ambassadeur is.

Kaartjies vir die byeenkoms is beskikbaar teen slegs R100 per persoon. Mense wat nie die fisiese byeenkoms kan bywoon nie, kan die program aanlyn volg teen R50 per kaartjie.

As deel van Geopende Deure Suider-Afrika se 50ste verjaardagvieringe, word spesiale byeenkomste oor dié organisasie se bediening en die vervolgde Kerk ook regoor die land beplan. Geopende Deure-verteenwoordigers sal as gassprekers by hierdie byeenkomste optree, en hulle sal inligting deel oor Geopende Deure en sy bediening om die vervolgde Kerk te ondersteun. Kerke en gemeenskapsgroepe kan Geopende Deure kontak om verteenwoordigers te nooi om by hul byeenkomste op te tree.

Meer inligting

Besoek die webtuiste www.opendoors50.co.za om kaartjies vir die fisiese of aanlyn 50ste verjaardagvieringe te bespreek. Dié webtuiste bevat ook meer inligting oor Geopende Deure Suider-Afrika, sy bediening en ander spesiale byeenkomste om sy 50ste verjaardag te herdenk.

Vir enige navrae of om ʼn onderhoud te reël, kontak Elizabeth Botha, media- en voorspraakbeampte, by [email protected], 083 227 8164 of 011 888 9341.

Mediaverklaring uitgereik deur: Elizabeth Botha
Media- en voorspraakbeampte: Geopende Deure Suider-Afrika
Tel: 083 227 8164 / (011) 888 9341
Epos: [email protected]

Back To Top
Soek