Skip to content

Pakistan hang moordenaar van Goewerneur wat protes teen wet op godslastering aangeteken het

Pakistan het die moordenaar van Punjab se Goewerneur, Salman Taseer, tereggestel. Die moordenaar het die sluipmoord op Taseer in 2011 geregverdig op grond van Taseer se wens vir die hersiening van die wet op godslastering, asook sy ondersteuning van Asia Bibi, ʼn Christenvrou wat die doodvonnis opgelê is weens die wet.

Volgens World Watch Monitor, is Mumtaz Qadri gister, 29 Februarie, tereggestel nadat Qadri se appèl om genade deur die President van die hand gewys is.

Pakistan se Christene het op hete kole gewag om te sien of President Mamnoon Hussain die doodsvonnis wat Qadri opgelê is, sou terugtrek, aangesien Moslem-godsdienstiges en politieke partye gedreig het om ʼn teenaanval te loods, indien Qadri tereggestel sou word. Sporadiese oproere en betogings het gister losgebars: ʼn hoofweg was vir ʼn tyd lank gesluit gewees, motors, busse en beelde van die Eerste Minister is simbolies verbrand.

Hooggeregshof-prokureur, Saif-ul-Malook, die aanklaer in Qadri se verhoor, asook die verteenwoordiger van Asia Bibi se aansoek tot appèl aan die Hooggeregshof, het aan World Watch Monitor gesê dat Qadri se teregstelling dui op Pakistan se toewyding om terrorisme te beveg. “Dit was baie moeilik om in te sien of Pakistan in staat sou wees om die verloop van die gereg te volg, maar die land het sy wil betoon,” het hy gesê. “Hierdie teregstelling het die stryd teen ekstremisme versterk.”

Daar heers gemengde gevoelens onder gelowiges in Pakistan. Party is ingenome met die feit dat die sisteem ruggraat getoon het in die stryd teen ekstremisme, terwyl ander hartseer is oor die verlies van nog ʼn lewe en moontlik nog ʼn siel. Bid asseblief deurgaans vir die Kerk in Pakistan, asook in Afganistan; die atmosfeer is gespanne – veral teenoor Christene wat waarskynlik die ergste van ʼn moontlike teenaanval sal verduur.

Back To Top
Soek