Skip to content

Ons woon tussen die wolwe

In Jemen kan jy doodgemaak word net omdat jy Jesus volg. Maar Zahra wys vir ons hoe dapper geloof in ʼn oorloggeteisterde land in die Midde-Ooste lyk!

Een somber weekdag het Zahra* die oproep gekry: “Anis* is dood.”
Anis was Zahra se broer in Christus. Hulle het saam mense gaan besoek om hulle van Jesus te vertel. “God het deur ons gewerk!” sê Zahra. “Sedert die ekstremiste egter ons dorp oorgeneem het, het Anis begin om dreigemente te ontvang. ‘Jou ongelowige . . . ons sal jou doodmaak.’”

’n Week later het ekstremiste Anis vermoor.

“Ek was baie geskok. Ek kon dit nie glo nie,” onthou Zahra. “Dit was ʼn baie moeilike tyd vir my. Die boodskappe wat hy die vorige week vir my gewys het, het by my gespook. Ek was doodbang. Wat as dit volgende met my gebeur?”

“Ten spyte van die gevare . . .”
Dit is uitdagend om jou geloof in ʼn land soos Jemen uit te leef. Jemem is al vir verskeie jare onder die top 5 lande op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys. Tog het God Zahra gekies om sy boodskapper te midde van die duisternis te wees, en sodoende lig te bring vir die mense rondom haar.

Vandag dien Zahra as die leier van ʼn vrouebediening in Jemen. Sy bedien verskeie vroue van aangesig tot aangesig om in hul navolging van Jesus te groei. Terselfdertyd skep sy vir hulle ʼn veilige spasie waar hulle in hul geloof kan verdiep. Hierdie dissipelskap is broodnodig in Jemen, wat al vir meer as ʼn dekade in die middel van ʼn wrede burgeroorlog is.

Alhoewel haar bediening haar in gevaar stel, was die geestelike groei van hierdie vroue die afgelope tyd nie net ʼn bron van groot vreugde vir Zahra nie, maar dit het ook haar roeping versterk.

“Ek glo dat God my hier geplaas het om ʼn impak op hierdie vroue se lewens te maak,” sê sy. “Om vir hulle hoop te bring en om die ware lig van Christus te reflekteer, te midde van die aaklige omstandighede waarin ons woon.”

Zahra weet dat sy deur die geheime polisie agtervolg word. “Ons woon tussen die wolwe, en ons weet dit,” verduidelik sy. “Ons weet dit maar alte goed.”

Hierdie realiteit keer egter nie haar bediening nie. “Ons is bang vir die ekstremiste en die regering,” sê sy. “Maar ek het hierdie pad gekies en ek weet wat die beproewings behels wat met hierdie besluit gepaardgaan. Jesus het my pyn, lyding en skuld op Hom geneem. Hy het sy kruis gedra en nou is dit my beurt om my kruis te dra en my lewensreis voort te sit. Ten spyte van die gevare is God besig om te werk.”

Zahra het eerstehandse ondervinding van wat kan gebeur as sy ontdek of geteiken word. Sy sal nooit die oproep wat sy oor Anis se dood ontvang het, vergeet nie. Dit is ʼn bewys van die moontlike koste van dissipelskap in Jemen.

Ten spyte van alles is God besig om in Jemen te werk – en ook in Zahra se hart. Sy weet dat Hy by haar is, terwyl sy besig is om oor Anis se dood te treur en in die gevaarlike werklikheid van haar bediening te leef. “God was by ons toe ons die moeilike dae in die gesig gestaar het,” sê sy. “Ek kan daarvan getuig dat ek sterker as voorheen uit die stryd getree het, met ’n glimlag op my gesig, en met die wete dat God ons almal deurgaans gehelp het.”

Geopende Deure help Christene in Jemen deur plaaslike vennote terwyl hulle Jesus volg. Jou geskenk vandag kan Christene soos Zahra help om sterk te staan vir Christus, maak nie saak wat gebeur nie.

*Name verander weens veiligheidsredes. Die foto’s is van Zahra, maar is vermom om haar identiteit te beskerm.

Back To Top
Soek