Skip to content

Nigerië: Veelvoudige Bomaanvalle Eis 54 Lewens in die Borno-Staat

In teenstelling met internasionale mediaberigte, het veelvoudige bomaanvalle in Nigerië se noordoostelike Borno-Staat, op Sondag 20 September, die lewens van minstens 54 mense geëis en ʼn verdere 90 mense ernstig beseer gelaat.

Drie bomme het op Sondagaand 20 September omstreeks 19:30 ontplof in Nigerië se Borno-Staat hoofstad, Maiduguri. Aanvanklik het internasionale media slegs agt sterftes berig. Volgens Geopende Deure-bronne is minstens 54 mense doodgemaak en 90 beseer in die aanval deur vermoedelike Boko Haram-lede. Die eerste geïmproviseerde ploftoestel (IED) is gedetoneer deur ʼn beweerde Boko Haram-militant, by ʼn moskee in Ajilari. Twee ure later, het nog twee bomme ontplof by ʼn kontrolepunt bykans 135 kilometer verder in ʼn mark in Monguno, waarin ʼn verdere 27 mense dood is. “Ek het 27 lyke op die toneel getel,” het Malum Sunoma, ʼn plaaslike inwoner, gedeel. “Vyf voertuie met 62 beseerde mense van die Monguno-aanval is na die spesialis-hospitaal in Maiduguri geneem,” het ʼn plaaslike dokter, wat anoniem wil bly, gesê. “Hierdie aanval kom slegs een maand sedert die laaste insidente van geweld berig is.

Geopende Deure wil die Suid-Afrikaanse Kerk aanspoor om te bid vir Nigerië:

  • Bid vir die oorlewendes van hierdie wrede aanvalle. Mag hulle genesing vanaf die Here Jesus ontvang en mag hulle Sy vertroosting en vrede tasbaar in hul herstelproses ervaar.
  • Bid vir diegene wat geliefdes aan die dood afgestaan het in die Boko Haram-geweld wat Nigerië en dele van Kameroen alreeds sewe jaar lank kwel.

Nigerië is #10 op die Geopende Deure 2015 Wêreldwaarnemingslys en een van die ergste en gewelddadigste lande vir Christene om in te woon.

Back To Top
Soek