Skip to content

Nigerië: ʼn Nigeriese student se barmhartige daad ontketen geweld

Tajudeen het nie verwag dat sy hulp aan ʼn medestudent tot die dood van agt mense sou lei nie…

Agt mense het Maandag 22 Augustus, tydens ʼn bendegroep-aanval wat verband hou met godslasteringsaantygings in Talata Mafara in die Zamfara-staat van Nigerië, gesterf. Studente aan die Abdu Gusau Ambagskool het ʼn medestudent, ʼn voormalige Moslem, daarvan beskuldig dat hy ʼn godslasterlike stelling teen die profeet Mohammed gemaak het. Die naam van die student is onbekend.

Die aantyging het in bendegeweld ontaard, waartydens die student aangerand en vir dood gelaat is. Toe die bende later hoor dat ʼn ander student, bekend as Tajudeen, die slagoffer na die hospitaal geneem het, was hulle woedend… In hulle woede het hulle Tajudeen se kar en huis aan die brand gesteek; agt mense wat ten tye van die brandstigting in die huis was, het gesterf. Daar word gesê dat die oorledenes almal Christene was.

Bid asseblief vir die gesinne wat geraak is deur die aanval, asook dat diegene wat betrokke was by die bende-aanval, die liefde van Jesus sal ervaar en tot berou gebring sal word.

Dankie dat jy bid!

Nigerië is #12 op die Geopende Deure 2016 Wêreldwaarnemingslys van plekke waar Christene die ergste vervolging ervaar.

Back To Top
Soek