
‘n Vrou bemagtig. ‘n Gemeenskap verander.
Shompa Roy is meedoënloos in Bangladesj vervolg. Maar as gevolg van jou gawes en gebede, hou sy aan om die Evangelie te deel – en haar kerk groei.
Vroue wat dit waag om die lig van Jesus in vervolgde nasies te laat skyn, staar dikwels diskriminasie op twee vlakke in die gesig – beide vir hul geslag en hul geloof.
Dit is Shompa Roy se realiteit. In ʼn kultuur waar dit gevaarlik en moeilik is om ʼn vrou te wees en waar die belydenis van jou geloof ʼn hoë koste het, kan Shompa nie stilgemaak word nie.
Hierdie merkwaardige vrou word vervolg sedert sy gehoor het hoe ʼn reisende evangelis die evangelie deel en haar lewe aan Christus gegee het. Dit het op klein maniere begin, met dorpenaars wat die enigste pad na die huis versper het wat sy met haar man, wat ook ʼn gelowige is, deel.
Maar dit het vinnig erger geword . . .
ʼn Groep vroue het Shompa vasgebind en haar probeer verneder en dwing om haar geloof te verloën. By ʼn ander geleentheid het ʼn Moslem-man haar gewelddadig aangerand en ook haar elfjarige dogter aangeval. Haar koei en bokke is selfs vergiftig. Toe is die gesin se enigste toilet (wat hulle met die kerk deel) stukkend geslaan.
Sommige mense se geloof kan te midde van sulke meedoënlose aanvalle wankel. Maar deur jou volgehoue ondersteuning aan Geopende Deure, kry vervolgde vroue soos Shompa die krag om Jesus aan te hou volg en te deel, bemagtig deur Sy waarheid oor hul identiteit.
Opleiding, gebed en praktiese hulp
Jou geskenke en gebede het broodnodige hulp en hoop gebring toe Shompa dit die nodigste gehad het. Sy het ʼn fiets ontvang om veilig van een dorp na ʼn ander te reis om die Goeie Nuus te deel, en haar kerk se geriewe is dadelik reggemaak nadat dit gevandaliseer is.
Jy het die gesin finansieel gehelp toe vervolging Shompa se man verhoed het om werk te kry. En Shompa kon intensiewe Geopende Deure-opleiding bywoon om haar geloof en identiteit as God se dogter te versterk.
Hierdie dapper evangelis leef nou as ʼn kragtige getuie vir Christus, en neem ʼn onwrikbare standpunt in teen geloof- en geslagsdiskriminasie.
“Ons Christene diskrimineer nie op grond van geslag nie. Ons word almal ewe veel gerespekteer in die Here se oë, so ek daag Hindoe-mans uit wat neerhalend teenoor vroue is,” sê Shompa, wat al meer as 140 mense na die Here gebring het.
“Vroue groei geestelik in my kerk. Hulle raak meer aktief in die kerk. Ek wil hê die vroue moet doeltreffend wees.”
Shompa is danksy jou bemagtig om haar Godgegewe potensiaal te bereik. Sy het herstel en is met waardigheid en krag geklee – en nou verander sy ook ander vroue se lewens.
“Ons is baie dankbaar vir jou ondersteuning,” het Shompa bygevoeg. “Jy het gebid en my familie en kerk ondersteun.”
Sluit by ons aan in gebed:
- Bid vir vervolgde vroue soos Shompa vir vryheid om openlik te aanbid en hul geloof te beoefen. Wanneer ʼn vrou die enigste gelowige in haar huishouding is, is dit moeilik om deel te wees van ʼn plaaslike kerk en vereis dit dikwels geheimhouding, wat uiters gevaarlik is.
- Bid vir vroue wat hulle ná hul huwelike tot die Christendom bekeer. Die vrees vir egskeiding en om toesig oor hul kinders te verloor, dwing hulle om hul geloof weg te steek. Bid vir hulle beskerming en moed, en vir God om in hul gesinne te werk.
- Bid vir emosionele en geestelike genesing vir vroue en meisies wat trauma ervaar het en die krag om diegene wat hulle seergemaak het, te vergewe. Vra dat God se vrede hul harte sal vul en hul vrese sal kalmeer.
Kom ons staan saam met en vier die dapper vroue in die vervolgde wêreld wat Jesus se liefde met ander deel.
Volgens die Geopende Deure Geslagsverslag vir 2024 is die top 5 drukpunte vir vroue rakende geslagspesifieke godsdienstige vervolging (GSRP) gedwonge huwelike, seksuele geweld, fisieke geweld, sielkundige geweld en ontvoering. Ons is danksy jou hulp in staat om in hierdie pynlike en kwesbare ruimtes te help om genesing en herstel te bring aan vroue in die voorste linies van godsdienstige vervolging.
Jou geskenk vandag kan vroue wat sulke druk ervaar, help onderhou deur dissipelskapopleiding en -werkswinkels, praktiese hulp en nog baie meer te verskaf.
*Enige oortollige fondse sal gebruik word om vervolgde Christene te versterk waar dringende hulp nodig is.