Skip to content

ʼn Duur Kersfees

Rumana word geboelie en mishandel omdat sy Jesus volg, maar sy weet waar haar hoop hierdie Kersfees vandaan kom!

Rumana begin elke oggend wanneer sy wakker word haar dag soos baie ander negejariges. Sy was haar gesig en eet ontbyt. Sy bid oor haar dag en vra dat God haar sal seën. Sy pak haar pennesakkie en skoolboeke in haar rugsak en stap skool toe.

Sy stap op haar eie die myl skool toe. Wanneer sy by die skool kom, groet niemand haar nie en wil niemand langs haar in die klas sit nie. Sy is omring met mense by die skool, maar sy is heeltemal alleen.

Alles omdat sy ʼn Christen is.

“Ek is so alleen”

Rumana se gesin is Christene in ʼn oorwegende Moslem-dorpie in die noordweste van Bangladesj. Mense is versigtig om met hulle te meng omdat hulle bang is dat hulle deur die gemeenskap verwerp sal word – en gevolglik word hierdie gesin vervolg. Die mishandeling is vir Rumana veral by die skool sigbaar.

“Ek het nie enige vriende by die skool nie omdat beide ek en my ouers Christene is,” sê sy. “As ek by kinders gaan sit, raas hul ouers met hulle en sê: ‘Sy is ʼn Christen. Jy kan nie met haar gesels nie, want hulle (Christene) is slegte mense.’ Ek is so alleen.”

Rumana het ondanks die pyn ʼn merkwaardige perspektief vir iemand van haar ouderdom – en dit wys dat God besig is om in haar hart en lewe te werk. “Ek praat met God oor alles en voel dan beter,” verduidelik sy. “Waarom moet ek kwaad word vir hulle? Ek vergewe hulle. Ek word nie kwaad vir enigiemand nie. As ek kwaad word, sal dit my sleg laat voel.”

Saam vir Kersfees

Rumana speel saam met ander Christenkinders by ʼn Kersviering.

Rumana se Sondagskool word deur Geopende Deure se kerkvennote behartig. Hulle leer om Bybelversies te memoriseer, God te aanbid en hoe om te bid – alles waardevolle dinge wat hulle help om vervolging te verduur. Op Kersdag is Rumana nie alleen in haar geloof nie. Sy kan met vreugde saam met ander Christene feesvier, al bly sy in ʼn gemeenskap wat haar en haar familie verag.

“Ek is mal daaroor om Kersfees te vier, want al die Christene, insluitend my Sondagskoolonderwyser, kom bymekaar om saam te sing en Bybel te lees,” sê sy. “Soms lees ons uit ʼn storieboek. Ons sê die Bybelversies op wat ons in die Sondagskool geleer het.”

Rumana moes in haar kort lewe al geweldig baie verduur. Haar gesin moes ook al net so baie verduur. Sy sal heel moontlik nooit ophou om weens haar geloof vervolg te word en dreigemente te ontvang nie.

En tog gee tye soos Kersfees haar die krag om aan te gaan. Daar is mense wat vir haar lief is, wat haar herinner hoe lief Jesus ook vir haar is. Dit maak nie saak hoe alleen sy voel wanneer sy elke dag skool toe gaan nie, Kerstyd herinner haar daaraan dat sy aan die Liggaam van Christus behoort. Dit is waarom sy kan aanhou om die pad saam met Hom te stap, al weet sy dit is ʼn gevaarlike pad.

Geopende Deure kan danksy jou geskenke en gebede, en deur plaaslike vennote, aan Christene soos Rumana en haar gesin onmiddellike en langtermynondersteuning bied.

Back To Top
Soek