Skip to content

‘n Brief van Jan Gouws

Beste Vriend/in van die vervolgde Kerk,

Broer Andrew het op ʼn keer gesê, “Wanneer ons enige politiese of godsdienstige groep of nasie as die vyand sien, kan God se liefde ons nie bereik en oproep om iets daaromtrent te doen nie.”

Sy hele lewe het gespreek van God se liefde vir mense. Hy het na die donkerste plekke gegaan en die mees ekstremistiese leiers ontmoet om hulle van Christus se liefde te vertel. Hy was welbekend onder ekstremistiese groepe soos Hamas. En hulle het hom respekteer.

Sy grootste nalatenskap is Geopende Deure. Hy het gesê dat indien hy geweet het waarin dit sou ontwikkel, hy dalk nooit die werk sou begin het nie. Maar hy het God se roeping gehoorsaam om wakker te wees en “die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe, te versterk” (Openbaring 3:2). En vandag, deur jou gebede en groothartige geskenke sit jy daardie werk voort namate jy help in die bediening en versterking van duisende Christene in meer as 60 lande wêreldwyd.

In ʼn private gesprek met Broer Andrew het hy aan my gesê dat die Here ʼn snaakse sin van humor het. Toe ek hom vra hoekom, het hy geantwoord dat die Here hom gekies het, ʼn totale introvert, om hierdie werk te begin. Hy het toe bygevoeg, terwyl hy my in die oë gekyk het, dat indien God hom kon gebruik het, dan kan God enige iemand gebruik wat Hy kies.

Noudat Broer Andrew by die Here is, voel dit asof daar ʼn leemte is. Maar hierdie werk was nie Andrew se werk nie. Dit was, en is steeds, die Here se werk. En die Here in Sy groot genade gebruik jou en my om die leemte te vul.

Terwyl ons vir Broer Andrew onthou, mag sy nalatenskap voortleef deur ons sodat die wat op die punt staan om te sterwe, versterk sal word om God se Koninkryk uit te bou waar geloof die meeste kos!

 

Saam in Sy diens,

Jan Gouws

Voormalige Uitvoerende Direkteur

Geopende Deure Suider-Afrika

Back To Top
Soek