Skip to content

MEDIAVERKLARING: Indië se Christene ervaar “eksistensiële bedreiging” weens gewelddadige vervolging

Die vervolging van Christene skerp styg in Indië, en word gedryf deur Hindoe-ekstremiste se doelwit om die land van alle nie-Hindoe-gelowe te bevry en die Kerk teen die einde van 2021 uit te wis. Christene regoor die land leef in voortdurende vrees, namate ʼn sistematiese veldtog van gewelddadige teistering, verkragting en moord teen hulle gevoer word.

Dit is die bevindings van ʼn skokkende nuwe verslag van die London School of Economics (LSE), wat in opdrag van die bedieningsorganisasie Geopende Deure Internasionaal saamgestel is. Die verslag, getiteld “Destructive lies – Disinformation, speech that incites violence and discrimination against religious minorities in India”, beskryf die uiterste vervolging wat Christene en Moslems ervaar. Gewelddadige groepe Hindoe-nasionaliste of Hindutva*, wat hulle gedurig dophou, is hiervoor verantwoordelik.

Ekstremiste is uiters georganiseerd en huiwer nie om uiterste geweld te gebruik om hul doelwit te bereik nie. Hulle gebruik propaganda om geweld en diskriminasie aan te hits, en beywer hulle vir veranderinge in amptelike beleide om die Kerk se vryheid te beperk. Daar word teen Christene gediskrimineer, hulle word deur hul families en gemeenskappe verwerp, hulle sukkel om te oorleef en vrees dikwels vir hul lewens.

Skending van regte

Alle kategorieë van Christen-gemeenskappe se regte word in Indië geskend en bekeerlinge vanaf ʼn Hindoe-agtergrond word op die volgende maniere die swaarste vervolg:

  • Christene word weens hul geloof doodgemaak.
  • Christen-vroue en -meisies word verkrag en seksueel misbruik weens hul geloof.
  • Christene word aangeval, uitgewis en onregverdig daarvan beskuldig dat hulle ander dwing om tot bekering te kom.
  • Christene is die slagoffers van brandstigting en smeerveldtogte wat geweld en diskriminasie aanhits.
  • Vreedsame godsdienstige byeenkomste van Christene word deur gewelddadige groepe en aanvalle ontwrig.
  • Christen-Dalits word weens hul geloof uitgesluit van regstellende aksie deur die regering.

Volgens die verslag word aanvalle en vervolging deur regeringsamptenare en wetstoepassers geïgnoreer, en selfs goedgekeur – insluitende die nasionale en streeksregerings, polisie en die media – om in die goeie boekies van Indië se magtige Hindutva-organisasies te bly.

Een van die verslag se outeurs, wat anoniem wil bly, sê: “Die omvang van die regeringsamptenare en wetstoepassers se betrokkenheid by die geweld is skokkend; dit vind selfs op grondvlak plaas. Die burokrate, polisie en regters in die howe span openlik saam om hierdie minderhede te teister. En die politici, magtigste godsdiensleiers en invloedryke media-eienaars gee te kenne dat hierdie optrede wenslik is.”

Covid-19-pandemie

Die Covid-19-pandemie het die situasie nog verder vererger. Mense is nou meer kwesbaar omdat hulle in hul dorpe ingeperk is en nie kan wegkom nie. Dit is baie moeiliker vir hulle om toegang tot ondersteuning van die wyer gemeenskap te kry of werk te kry, en Christene word dikwels afgeskeep met amptelike noodleniging.

Christene en Moslems word gedurende die huidige Covid-19-krisis geteiken in gekoördineerde veldtogte wat verkeerde inligting versprei. Dit sluit bewerings in dat hulle opsetlik probeer om die virus te versprei en Hindoes deur hulle aanbiddingsrituele daarmee besmet.

 Verdere bevindings van die verslag

  • Die veldtog van geweld en intimidasie word erg aangevuur deur nuwe sosiale media-platforms. Gewelddadige groepe gryp slagoffers se fone en neem die aanvalle dan op, waarna dit op sosiale media geplaas word om ander Hindutva-groepe daaroor in te lig en hul subjektiewe weergawe van die inligting te versprei.
  • Wanneer die hoofstroommedia aanvalle deur gewelddadige groepe hoegenaamd dek, word die oortreders se weergawe dikwels onveranderd herhaal sonder om dit te betwis en weier hulle om met die slagoffers te praat.
  • Die polisie en plaaslike regstrukture weier om enige van die misdade wat gepleeg word te erken of om enige klagtes teen die oortreders te lê.
  • Die geweld en vervolging word op regeringsvlak aangemoedig, met die staat wat wette instel om Christene te straf vir “gedwonge bekering” (in praktyk is dit net Christene wat hul godsdiens beoefen).
  • Brandstigting-aanvalle word dikwels uitgevoer op plekke van aanbidding en godsdienstige items.
  • Valse aantygings teen Christene word deur die hoofstroommedia en nuwe media versprei, insluitende bewerings dat Christene die Hindoes opsetlik met Covid-19 besmet.

Die navorsing is uitgevoer deur ʼn LSE-navorsingspan wat in Indië gebaseer is. Die data is ingesamel op plekke waar voorvalle van geweld teen Christene of Moslems aangemeld is.

Gevallestudies en aanbevelings

ʼn Reeks ontstellende gevallestudies word in die verslag beskryf, insluitende Sunita Verma**, wat geboorte gegee het aan ʼn doodgebore baba nadat ʼn groep Hindutva-aanvallers haar gewelddadig in die maag geskop het; Ravi, ʼn plaaslike arbeider wat deur ʼn gewelddadige groep aanvallers vasgekeer en aangerand is en deur die polisie in ʼn sel gelos is om dood te gaan; en die besonderhede van ʼn massa-aanval op ʼn Moslem-dorp deur ʼn skare van 6 000 mense, wat brandstigting gepleeg en talle mense permanent uit hul huise verdryf het.

Die verslag bevat ʼn aantal dringende aanbevelings, insluitende die samestelling van ʼn internasionale kommissie om die regte feite te bevestig en die vlakke van geweld en skending van menseregte teen godsdienstige minderhede te dokumenteer.

Die uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, Jan Gouws, sê: “Die internasionale gemeenskap kan nie langer die gebeure in Indië ignoreer nie. Hulle kan nie meer hul rug draai op hierdie gruweldade nie. Ons vra vir ʼn deeglike ondersoek van die brutale en sistematiese vervolging van godsdienstige minderhede.”

Intussen word ʼn beroep op sosiale media-maatskappye gedoen om ʼn reeks onmiddellike maatreëls toe te pas, insluitende:

  • Meer moderators om plaaslike kwessies van diskriminasie, teistering en geweld aan te spreek.
  • Die verskerping van algoritmes om onmenslike optrede en die aanhitsing van geweld teen godsdienstige minderhede in Suid-Asië aan te spreek.
  • Die onmiddellike opskorting van rekeninge wat sulke materiaal versprei.

“Wat veral skokkend is, is dat hierdie kwessie nie ernstig opgeneem word deur sosiale media-platforms en maatskappye wat menseregte ondersteun nie,” sê die anonieme mede-outeur van die verslag. “Hulle behoort dit as ʼn baie ernstige situasie te hanteer. Ek dink hulle sou anders gereageer het as Christene in Amerika of Brittanje so vervolg word.”

Die verslag is op 1 Julie 2021 wêreldwyd vrygestel as die begin van Geopende Deure se Impact India-veldtog. Hierdie veldtog se doelwit is om bewustheid te skep oor die situasie van Christene in Indië en om ondersteuning vir hulle te versterk. Vir meer inligting, besoek die Suid-Afrikaanse veldtog se webblad by www.standfortruthindia.co.za.

* Hindutva vertaal as “Hindoe-heid” en is ʼn vorm van nasionalisme. Dit definieer die Indiese identiteit uitsluitlik in terme van Hindoeïsme en sien alle gelowe en filosofieë wat nie inheems aan Indië is nie (Christenskap, Islam, sekularisme) as “nie-Indiese” indringers in die nasie.

 ** Name verander weens sekuriteitsredes.

 

Mediaverklaring uitgereik deur Elizabeth Botha
Media- en Voorspraakbeampte: Geopende Deure Suider-Afrika
Tel: 083 227 8164 / (011) 888 9341
Epos: [email protected]

Back To Top
Soek