Skip to content

MEDIAVERKLARING: Geopende Deure Suider-Afrika stel gewilde sanger as ambassadeur aan

Die organisasie Geopende Deure, wat vervolgde Christene reg oor die wêreld ondersteun, het die bekende sanger, Loyiso Bala, onlangs as hul ambassadeur aangestel.

Loyiso is ʼn lid van twee gewilde sanggroepe, die Bala-broers en Swing City, maar het ook ʼn groot ondersteunersbasis as solokunstenaar en het al verskeie solo-albums uitgereik. Sy prestasies sluit in sewe Suid-Afrikaanse Musiektoekennings (SAMAS), drie Metro FM-toekennings en ʼn Suid-Afrikaanse Film- en Televisietoekenning (SAFTA).

Hy is ook saam met Alicia Keys, Rihanna, Akon en P Square vir die internasionale MTV-toekennings genomineer. Hy is al met ʼn welverdiende applous toegejuig deur internasionale ikone soos Nelson Mandela, Oprah Winfrey, Richard Branson, vorige Amerikaanse president Bill Clinton en vorige Britse premier Gordon Brown.

Hy is ook die afgelope twee jaar die kanaaldirekteur van die Christelike televisiestasie, Trinity Broadcasting Network (TBN), in Afrika. TBN is die grootste geloof- en familiegebaseerde televisienetwerk in die wêreld, met meer as 30 globale netwerke op 88 satelliete wat ʼn beraamde twee biljoen kykers per dag bereik.

Geopende Deure Suider-Afrika (ODSA) vorm deel van Geopende Deure Internasionaal, wat vervolgde Christene in meer as 60 lande reg oor die wêreld dien deur die aflewering van Bybels en Christelike literatuur, besoeke aan vervolgde Christene, dissipelskap en opleiding, noodleniging aan slagoffers van vervolging en natuurrampe, en bewusmaking deur voorspraak.

Die uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, Jan Gouws, verwelkom Loyiso by hulle span en bediening. “Ons sien uit na die pad vorentoe met Loyiso as ons ambassadeur. Sy entoesiasme om by die vervolgde Kerk betrokke te raak, sowel as sy liefde en passie vir die Here, maak hom die ideale ambassadeur vir ons bediening. Ons is opgewonde om hom aan boord te bring as ʼn integrale deel van ons bediening.

“Geopende Deure Suider-Afrika vier sy 50ste bestaansjaar in Mei 2021. Ons sien uit daarna om hierdie mylpaal te deel met Loyiso as ons ambassadeur.”

Loyiso sê die volgende oor sy rol as ambassadeur van Geopende Deure Suider-Afrika: “Ek is dankbaar en geëerd oor die geleentheid om by Geopende Deure betrokke te raak. Ek sien uit na die uitdaging om hierdie organisasie se boodskap te versprei, en om betrokke te raak by projekte om vervolgde Christene reg oor die wêreld te ondersteun en te versterk. 

“In my rol as ambassadeur wil ek help om die stem van die vervolgde Kerk te versterk en om groter bewustheid te kweek oor die swaarkry en lyding wat hulle in die gesig staar – alles weens hul geloof en liefde vir Jesus Christus. Dit sal ʼn eer wees om by ons broers en susters in Christus betrokke te wees, en om ons familie in Christus te help onthou dat hulle nooit alleen is nie.

“Ek sien uit na my reis saam met Geopende Deure en glo dat die Here my sal wys waar Hy my as Sy instrument wil gebruik. Alle eer en glorie aan God vir Sy genade in ons daaglikse lewens – beide in ons persoonlike verhoudings met Hom en in die vervolgde Kerk, ʼn getuienis van Sy liefde en getrouheid.”

 

Meer oor Loyiso Bala

Loyiso, wat sy MBA-studies by Henley Besigheidskool voltooi het, het op die direksies van verskeie organisasies in die musiek- en vermaakbedryf gedien. Hy is as ʼn tiener by die gesogte Drakensbergse Seunskoor in KwaZulu-Natal opgelei, waar hy eerste in sy klas geëindig het en sy klassieke stem ontwikkel het.

Aan die einde van 2002 het Loyiso ʼn wêreldtoer aangepak waartydens hy in Londen, Amerika, Asië en die Midde-Ooste opgetree het. Ander vertonings wat hoogtepunte was, sluit in verskeie optredes by die Mej. Suid-Afrika- en Mej. Wêreld-kompetisies. Hy het al saam met die room van internasionale kunstenaars opgetree, waaronder Jamelia, Corinne Bailey Rae, John Legend, Brian McKnight, Elton John, Will Smith en Akon.

Loyiso was ook die ambassadeur vir die 46664-veldtog, die Smile Foundation en mees onlangs MaAfrika Tikkun, waartydens hy by verskeie liefdadigheids- en ander belangrike projekte, soos afrigting by skoolkonserte en optredes by liefdadigheidsfunksies, betrokke was. Hy is ook ʼn spreker oor MIV-opvoeding by verskeie skole landwyd.

Sy vennootskap met 46664 het gelei tot ʼn sterbelaaide vertoning vir ʼn skare van meer as 46 000 mense by die Nelson Mandela 46664-konsert in Hyde Park in Julie 2008, asook optredes by Madison Square Garden in New York in Julie 2009 en by Radio City Hall in New York vir voormalige president Nelson Mandela se 91ste verjaardagvieringe op 18 Julie 2009.

Volgens Loyiso hou hy van lewendige vertonings omdat “dit is waar ek in staat is om alles oor musiek waarvoor ek lief is bymekaar te bring op een platform”. Een so ʼn vertoning was saam met Alicia Keys, Shakira, die Black Eyed Peas en John Legend by die FIFA Wêreldbeker Afskopvieringskonsert. Hierdie konsert is op 10 Junie 2010 by die Orlando Stadium in Soweto, wat 30 000 mense kan akkommodeer, gehou – ʼn dag voor die openingswedstryd van die Wêreldbeker.

 

Uitgereik deur: Elizabeth Botha

Media- en Voorspraakbeampte: Geopende Deure Suider-Afrika

Tel: 083 227 8164 / (011) 888 9341

E-pos: [email protected]

Back To Top
Soek