Skip to content

Mediaverklaring: Christen-vervolging bereik nuwe rekordhoogte

Kommerwekkende styging in Sentraal-Asië en sub-Sahara Afrika

Meer as 380 miljoen Christene regoor die wêreld staar nou hoë vlakke van vervolging en diskriminasie weens hul geloof in die gesig (op met 15 miljoen sedert verlede jaar se syfer van 365 miljoen) – ʼn rekordgetal, wat een uit elke sewe Christene wêreldwyd verteenwoordig (op vanaf een uit agt vier jaar gelede). Dit is ʼn verhoging van ʼn verbysterende 140 miljoen sedert 2018.

Dít is die ontstellende bevindings van Geopende Deure Internasionaal se 2025 Wêreldwaarnemingslys (WWL), wat op 15 Januarie 2025 bekendgestel is. Hierdie jaarlikse lys, wat nou in sy 32ste jaar is, bevat die top 50 lande wêreldwyd waar Christene die ergste vervolging en diskriminasie ervaar en skep bewustheid van die swaarkry wat vervolgde Christene elke dag in die gesig staar. Lande word gelys volgens die erns van vervolging en diskriminasie wat Christene wat daar bly, moet verduur.

Die algehele tendens in hierdie wêreldwye opname wys dat die vervolging van Christene regoor die wêreld teen ʼn kommerwekkende tempo toegeneem het, veral in Sentraal-Asië en Afrika. In die WWL top 50 lande alleenlik ervaar 310 miljoen Christene baie hoë of uiterste vlakke van vervolging en diskriminasie weens hul geloof. Talle skokkende voorvalle van vervolging in Afrika en elders het die afgelope jaar die nuusopskrifte gehaal.

Verskerpte gevaar in Sentraal-Asië en sub-Sahara Afrika
Die Geopende Deure 2025 Wêreldwaarnemingslys onthul dat geweld en outoritêre beperkings teen Christene die afgelope jaar wêreldwyd toegeneem het, veral in Sentraal-Asië en sub-Sahara Afrika. Kirgistan is verreweg die land wat die meeste uitstaan en die skerpste styging toon op die WWL, die jaarlikse ranglys van lande waar dit die moeilikste is om as ʼn Christen te leef.

Saam met die versmorende onderdrukking wat Noord-Korea se ondergrondse Christene al jare lank moet verduur, dokumenteer die 2025-lys ook ander tendense wat oor die jare voorgekom het, soos die voortslepende dodelike geweld regoor die grootste deel van die Afrika-kontinent. Nuwe verwikkelinge in 2025 kan egter veral in Sentraal-Asië gevind word.

Kommerwekkende statistieke
Die aantal lande waar Christene uiterste, baie hoë of hoë vlakke van vervolging ervaar, het gedurende die 32 jaar van Geopende Deure se Wêrelwaarnemingslys-rapportering amper verdubbel vanaf 40 lande in 1993 tot 78 lande in 2025.Dit kan soos volg verdeel word:

  • Uiterste vlakke van vervolging: Nommers 1 tot 13.
  • Baie hoë vlakke van vervolging: Nommers 14 tot 60.
  • Hoë vlakke van vervolging: Nommers 61 tot 78.

Top 5 lande
Noord-Korea is vir die derde agtereenvolgende jaar en vir die 23ste keer sedert die eerste WWL in 1993 weereens in die nommer een-posisie op die Wêreldwaarnemingslys. Hierdie land is sedert 2002 elke keer in die nommer een-posisie, behalwe vir 2022, toe dit na die tweede plek afgeskuif het ná Afganistan in nasleep van dié land se Taliban-oorname.

Somalië is weereens in die tweede plek – dieselfde as verlede jaar. Jemen volg in die derde plek, Libië in die vierde plek en Soedan in die vyfde plek.

 WWL 2025 in syfers
Die belangrikste tendense van die 2025 WWL is:

  • Altesaam 4 476 Christene is wêreldwyd doodgemaak weens hul geloof.
  • Vyf van die top 10 lande op die 2025 WWL is in Afrika.
  • Daar was 28 368 aanvalle op Christene se huise, winkels of ondernemings weens geloofsverwante redes.
  • Altesaam 16 miljoen Christene in sub-Sahara Afrika het gedwonge ontworteling weens geweld deurgemaak.
  • Meer as 380 miljoen Christene wêreldwyd staar hoë vlakke van vervolging en diskriminasie in die gesig.

Belangrikste drywers van hierdie jaar se lys
Die twee belangrikste drywers van hierdie skerp toename kan beskryf word as chaos en beheer:

  • Chaos: Veroorsaak deur voortslepende konflik, georganiseerde misdaad en Islamitiese opstande. Vyande van Christenskap kan te midde van hierdie wetteloosheid straffeloos optree.
  • Beheer: Soos wat outoritarisme toeneem, pas regimes toenemende druk en geweld teenoor Christelike minderhede toe.

Ander noemenswaardige bevindings (WWL-posisie tussen hakies)
Sommige van die grootste bekommernisse op vanjaar se lys is die skokkende situasie in Noord-Korea, die drastiese toename in vervolging in Sentraal-Asië, die voortslepende geweld en ontwortelingskrisis in Nigerië en ander dele van sub-Sahara Afrika, die verdwyning van die Kerk in verskeie lande omdat dit ondergronds gedryf word, die invloed van burgeroorloë en gevorderde monitering in China en ander outokratiese state.

Noord-Korea steeds nr. 1 op die lys
Die geweldstelling in Noord-Korea het vanjaar nog hoër gestyg, met Christene wat moontlike openbare teregstelling in die gesig staar as hulle betrap word. Ondanks dit arresteer en repatrieer China (15) honderde Noord-Koreaanse (1) ontsnaptes as “onwettige immigrante” sonder bekommernis oor die lot wat hulle in die gesig staar – ʼn lot wat aansienlik erger vir Christen-bekeerlinge is.

Skerpste styging in Sentraal-Asië
Verskeie lande in Sentraal-Asië het ʼn skerp styging getoon. Kirgistan (47) het met 14 plekke gestyg, wat die grootste styging van enige land is en meegebring het dat dié land vir die eerste keer sedert 2013 in die top 50 verskyn. Die nasie, wat voorheen bekend was as die minste outoritêre land in die streek, ervaar beperkings op godsdiensvryheid en geweld teen kerke.

“Voordat die huidige president, Sadyr Japarov, in Januarie 2021 aan bewind gekom het, was Kirgistan bekend as die minste outoritêre land in die Sentraal-Asië streek,” sê World Watch Research-analis, Rolf Zeegers. “Sedertdien is ʼn wye reeks meer beperkende wette bekendgestel. Ons merk ʼn toename in beperkings op godsdiensvryheid. Die land toon ook ʼn skerp styging in geweld teen kerke, insluitende klipgooivoorvalle en klopjagte op aanbiddingsdienste.”

Naburige Kasakstan (38) en Tadjikistan (39) het ʼn soortgelyke styging op die ranglys ervaar. Strenger regeringsbeheer in Kasakstan het dié land se WWL-telling verhoog, wat daartoe gelei het dat dit nege plekke gestyg het tot op nommer 38. Navorsers het verslae ingedien oor polisieklopjagte op aanbiddingsdienste, sowel as seksuele misbruik van Christen-vroue.

“Die bedreiging van outoritêre regimes in Sentraal-Asië het tot so ʼn mate vererger dat baie Christene in die streek in vrees leef,” sê Frans Veerman, besturende direkteur van Open Doors World Watch Research. “Christene word doelbewus geteiken en is ekstra kwesbaar in lande wat deur toenemende outokratiese regimes en radikale elemente geteister word.”

Voortslepende geweld in sub-Sahara Afrika 
Sub-Sahara Afrika (SSA) is die gewelddadigste plek in die wêreld vir Christene. Chroniese onstabiliteit in die regering en burgerlike konflik het ʼn vakuum geskep in verskeie nasies in SSA, wat deur opportunistiese Islamitiese militante gevul word.

Dele van Nigerië (7) is waarskynlik die gevaarlikste plekke in die wêreld om ʼn Christen te wees op die ranglys. Christelike gemeenskappe word meedoënloos geteiken deur jihadistiese groepe en Fulani-militante – die godsdienstige aard hiervan wys duidelik in ʼn skokkende 2024-verslag.

Die frakture in bestuur en sekuriteit het die deur oopgemaak vir jihadistiese aktiwiteite in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (27), die Demokratiese Republiek van die Kongo (35), Mali (14), Burkina Faso (20) en Niger (28). Die groeiende geweld veroorsaak ook ʼn ontwortelingskrisis, aangesien miljoene Christene gedwing word om van hul huise weg te vlug.

Soedan het drie plekke opgeskuif op die lys na nr. 5, gedryf deur die intensivering van die burgeroorlog. Die land het ʼn toename ervaar in die aantal Christene wat doodgemaak is, seksueel aangerand is, en aanvalle op Christen-huise en ondernemings. Meer as 7,7 miljoen mense is teen mid-2024 intern ontwortel, wat dit die grootste ontwortelingskrisis in die wêreld maak.

Geopende Deure se Arise Africa-veldtog is ʼn meerjarige reaksie op die aanhoudende geweld wat teen Christene in dié streek plaasvind. Dié veldtog, wat saam met Christen-leiers regdeur sub-Sahara Afrika werk, is daarop gemik om die Afrika-kerk in staat te stel om sterk te staan in geloof wanneer uiterste vervolging plaasvind.

Die verdwynende Kerk
Die Kerk word in verskeie lande weggedryf of gedryf om ondergronds te gaan. Veral in die Midde-Ooste is verskeie Christen-gemeenskappe aan die kwyn en, in sommige gevalle, op die rand van uitsterwing.

Sirië (18) sien ʼn voortdurende uittog van sy Christen-gemeenskappe, met slegs ʼn baie klein fraksie wat oor is na die burgeroorlog, die opkoms van ISIS en die aardbewing in 2023. Die val van die vorige president, Bashar al-Assad, in Desember (wat nie in die WWL-statistieke in berekening gebring is nie) skep verdere onsekerheid, aangesien Christene ʼn onseker toekoms in die gesig staar onder die heerskappy van die primêre rebelgroep, Hayat Tahrir al-Sham (HTS).

Intussen word die Christen-bevolking in verskeie lande al dieper ondergronds gedryf. In lande soos Algerië (13), Libië (4) en Afganistan (10) is die sigbare Christen-teenwoordigheid aan die afneem, wat gelowiges tot isolasie of ondergrondse aanbidding dwing. Hulle doen dit om meer gesofistikeerde monitering en al strenger wette wat hul bestaan reguleer of verbied, te ontduik.

Algerië se vervolgingstelling het gedaal, maar slegs omdat daar geen Protestantse kerke meer oor is om toe te maak nie. Die Kerk in Afganistan is nou feitlik onsigbaar vir buitestaanders, aangesien Christene uit die oog weggesteek bly om gewelddadige strawwe deur die Taliban te vermy.

Invloed van burgeroorloë
Die voortslepende burgeroorlog in Soedan (nr. 5, vanaf nr. 8 in 2024) het ondenkbare lyding veroorsaak en tot ʼn skerp styging in die vervolging van Christene gelei, wat doodgemaak, aangerand of uit hul huise weggedryf is.

Jemen het tot die derde plek op die lys gestyg. Die voortslepende burgeroorlog en die toenemende invloed van die Houthis-rebelle het dosyne Christen-huiskerke gedwing om hul byeenkomste te staak. Die gevegte tussen Mianmar (13) se weermag en ʼn magdom opposisie-militante het dié land se telling tot in die “uiterste vervolging”-kategorie gedryf, wat bestaan uit die top 13 lande op die lys.

Moniteringstate
Christene in China (15) en ander outokratiese state is weens gevorderde monitering toenemend versigtig om hul geloof openlik uit te druk.

Lynette Leibach, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, sê: “ʼn Mens is elke jaar vreesbevange om te hoor dat die situasie vir mede-Christene versleg het. Hierdie jaar is geen uitsondering nie, met beide chaos en beheer wat meer intens geraak het.

“In só ʼn ernstige situasie, waar meer as 380 miljoen mense deur vervolging en diskriminasie weens hul geloof geraak word, kom Jesus se woorde in Johannes 16:33 by my op: ‘Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.’ Dit is noodsaaklik om dié gelowiges te bereik en by te staan terwyl vir vrede gewerk word. Geopende Deure verskaf hierdie geleentheid.”

Oor die WWL en hoe die syfers ingesamel is
Die eerste WWL is in Januarie 1993 bekendgestel. Lande se algehele vervolgingstellings is ʼn samestelling van ses verskillende tellings: Vervolgingsvlakke in die privaatlewe, familielewe, gemeenskapslewe, nasionale lewe en kerkgemeenskappe, saam met die geweldvlakke. Regeringsbeperkings en die hoeveelheid sosiale vyandigheid teenoor Christene word ook in ag geneem. Vanjaar se lys dek die tydperk vanaf 1 Oktober 2023 tot 30 September 2024.

Die lys, wat aan die begin van elke jaar bekendgestel word, gebruik omvattende navorsing, data vanaf Geopende Deure-veldwerkers, hulle netwerke in die verskillende lande, eksterne kundiges en vervolgingsanaliste om die vervolging wêreldwyd te kwantifiseer en analiseer. Elke uitgawe word deur die Internasionale Instituut vir Godsdiensvryheid geoudit en geverifieer.

Meer inligting
Besoek www.opendoors.org.za om die volledige 2025 Wêreldwaarnemingslys, die navorsingsmetodologie, sowel as die top 50 lande se media- en voorspraakdossiere, te besigtig en af te laai.

Vir enige vrae oor die 2025 Wêreldwaarnemingslys, die navorsingsmetodologie of om ʼn onderhoud te reël, kontak Elizabeth Botha, mediabeampte, by [email protected], 083 227 8164 of 011 888 9341.

Geopende Deure Suider-Afrika (ODSA) is deel van die Geopende Deure Internasionaal-bediening, wat vervolgde Christene in meer as 70 lande wêreldwyd ondersteun en bystaan met die lewering van Bybels en Christelike literatuur, besoeke aan vervolgde Christene, dissipelskap en opleiding, en die verkondiging en bevordering van bewustheid deur voorspraak.

 

Back To Top
Soek