Skip to content

Mali: 20 Gyselaars Sterf in die Aanval op die Radisson Blu Hotel

Gewapende mans het vroeg Vrydagoggend die Radisson Blu-hotel, wat gereeld deur buitelanders besoek word, in Bamako, die hoofstad van Mali, aangeval terwyl hulle Islamitiese krete uitgeskree het. Nadat Malinese troepe die hotel bestorm het, is ʼn groot aantal gyselaars vrygelaat.

Op Vrydagaand het die groep, Al-Muabitoun, met verbintenisse aan Al-Qaeda en gelei deur die berugte Moktar Belmoktar, verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar. Die groep is ook verantwoordelik vir aanvalle wat in Mali in Maart en Augustus uitgevoer is.

“Alhoewel daar vermoed word dat die terreuraanval in Parys, Frankryk, die aanval in Mali ontlok het, is dit belangrik om in gedagte te hou dat die aanval binne die konteks van onsekerheid wat sedert 2013 se Islamitiese rebellie voortduur, gebeur het. ʼn Brose vredesverdrag is in Junie 2015 onderteken en was tot dusver nie suksesvol daarin om voortdurende vrede te bewerkstellig nie,” het ʼn Geopende Deure-werker gesê.

“Sommige Christene wat noodgedwonge moes vlug na die noorde tydens die 2013 rebellie, het teruggekeer, maar vind dit steeds baie moeilik om met die verwoesting van hul eiendom en die voortdurende onsekerheid saam te leef. Hierdie aanval dui egter daarop dat Christene in die suide ook aanhoudende onsekerheid trotseer.”

“Sluit asseblief by ons in gebed aan vir God se volhoudende genade vir ons broers en susters daar terwyl hulle hierdie onsekerheid in die gesig staar. Hou asseblief aan om te bid vir vrede in Mali,” vra Geopende Deure-werkers.

Mali is #40 op Geopende Deure se 2015 Wêreldwaarnemingslys van plekke waar Christene die ergste vervolging ervaar. Vir ʼn volledige lys, besoek ons webblad by www.opendoors.org.za.

Back To Top
Soek