Skip to content

Libië: Islamitiese Staat-Militante Ontvoer 88 Eritrese Christene

Opsomming: Militante van die selfgeproklameerde Islamitiese Staat ontvoer 88 Eritrese Christene in nog ʼn ontvoering in Libië.

Militante van die selfgeproklameerde Islamitiese Staat (IS) het op Woensdag, 3 Junie, 88 Eritrese Christene in Libië ontvoer. Volgens berigte deur die Libya Herald is die Christene gevange geneem deur die IS-militante tydens ʼn hinderlaag, naby Oum Walid, op ʼn konvooi wat handel in die smokkel van mense.

Hierdie insident volg nadat groepe van Egiptiese- en Etiopiese Christene deur IS ontvoer en vermoor is vroeër vanjaar.

Volgens die Libya Herald, was die Eritreërs op pad na die Libiese hoofstad, Tripoli, in ʼn trok wat deur IS voorgekeer is. Die Libya Herald het berig, “Toe IS die trok aanvanklik voorgekeer het, het die terroriste daarop aangedring dat Moslems hulself moet identifiseer. Almal wat gereageer het, is getoets rakende hul kennis oor die Koran en hul godsdienstige eerbiediging. Dit wil voorkom of die terroriste ten minste een Christen geïdentifiseer het wat homself as ʼn Moslem voorgedoen het.”

Die Moslems was daarna vry om te gaan.

Menseregte aktivis, Meron Estefanos, het gesê dat die Christene, immigrante is en die meerderheid afkomstig is van die stad, Adi Keih, en hulle het gepoog om hul weg te vind na Europa. Onder diegene wat ontvoer is, is ʼn aantal kinders en minstens 12 vroue.

In ʼn onderhoud met die Libya Herald, het Estefanos bygevoeg dat die video wat deur die djihad-groep in April vrygestel is, met die bedoeling om die onthoofding van 28 Etiopiese Christene ten toon te stel, geredigeer is. ʼn Aantal Eritrese Christene is terselfdertyd doodgemaak, volgens Estefanos.
In ʼn gesprek met Radio France Internationale in April, het Eritrese Katolieke Priester, Vader Mussie Zerai, gesê dat Etiopiërs en Eritreërs juis ʼn teiken is vir militante in Libië, omdat die meerderheid van hulle Christene is.

Bid asseblief vir die ontvoerde Eritreërs. Bid dat hulle, hul vertroue in God sal plaas en dat wat ook al mag gebeur, hulle God se vrede in hul harte sal beleef. Bid dat hul ontvoerders vir Jesus sal vind.

Libië is nommer 13 op die 2015 Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys van die 50 lande waar Christene die ergste vervolging ervaar.

Back To Top
Soek