Skip to content

Libië: Drie Afrika-Christene Ontvoer deur die Islamitiese Staat (IS)

Die Islamitiese Staat (IS) het hierdie week ʼn verklaring uitgereik waarin hul verantwoordelikheid vir die ontvoering van drie Afrika-Christene in Libië aanvaar. Die mans se ontvoering is volgens berigte bevestig deur die groep nadat hulle die paspoortfoto’s van ʼn Egiptiese-, Nigeriese- en Ghanese man gepubliseer het.

Volgens Reuters het die berugte Islamitiese ekstremiste groep, die Islamitiese Staat (IS), in ʼn verklaring verantwoordelikheid vir die ontvoering van drie Afrika-Christene in Libië aanvaar.

In die verklaring wat op sosiale media gepubliseer is, het IS gesê dat die mans afkomstig is vanaf Egipte, Nigerië en Ghana. Die groep het die mans se paspoortfoto’s as bewys en bevestiging van hul bewering gepubliseer. Daar word beweer dat die mans op 11 Julie terwyl hulle die land binnegekom het, gevange geneem is.

Die Cairo Post berig dat onderhandelinge onderweg is om die vrylating van 21-jarige Bikhet Nageh (van Egipte) deur die betaling van ʼn losprys te bewerkstellig. Die Nigeriese gevange is deur This Day Live as Adeola Ibrahim geïdentifiseer. Die Libya Herald het ook ʼn foto van die Ghanese gevangene, Sekyere, in ʼn oranje oorpak gepubliseer. Volgens berigte het die ontvoering plaasgevind naby die IS-beheerde stad van Sirte.

Vroeg in Junie vanjaar, het IS 88 Eritrese Christene in Libië ontvoer. Die Christene is volgens die Libya Herald gevange geneem tydens ʼn hinderlaag op ʼn mensehandelaar-konvooi naby Oum Walid. Die groep is na bewering ook verantwoordelik vir die ontvoering en onthoofding van groepe van 21 Koptiese Christene en 28 Etiopiese Christene vroeër vanjaar.

Die Egiptiese regering het volgens berigte hul burgers gewaarsku om nie na Libië te reis nie, maar talle Egiptenare en Afrikane reis na Libië in ʼn poging om werk te verkry in die ryk olie- en gasindustrieë. Libië is volgens die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys, die nommer 13 plek waar Christene die ergste vervolging ervaar.

Back To Top
Soek