Skip to content

Libië: 21 Koptiese Christene Gedood in Grusame Video van Hul Marteling

Volgens World Watch Monitor het Egipte sewe dae van rou aangekondig na Islamitiese militante met bande aan die Islamitiese Staat ʼn grafiese video wat die grusame massa-onthoofding van 21 Koptiese Christene in Libië uitbeeld, vrygestel is.

Die 21 mans was almal dagloners van die dorp, Samalout in Egipte se landelike, onderontwikkelde, Minya provinsie en is in twee aparte ontvoerings op 29 Desember 2014 en 9 February 2015, gevange geneem. Die militante het die gyselaars se geloof bevestig deur middel van hul identiteitsdokumente.

President Abdul Fattah al-Sisi het die Islamitiese Staat (IS) teregstellings ten sterkste veroordeel. Egipte se weermag het op Dinsdag ten minste agt lugaanvalle geloods en Egiptiese Televisie berig dat 50 militante in die aanvalle gedood is. Die aanvalle het IS-kampe, -opleidingsentrums en wapenstore in Derna, Libië geteiken. Libiese vegvliegtuie het ook teikens in Sirte aangeval.

Die video wat op 15 Februarie vrygestel is, is getiteld, “ʼn Boodskap geteken in bloed aan die nasie van die kruis.” Video byskrifte het die Egiptiese Christene as “mense van die kruis, volgers van die vyandige Egiptiese kerk,” beskryf.

Die broer van een van die gemartelde Egiptenare het op Maandag, na nuus van die moorde vrygestel is, gesê, “Ons het gehoop dat hul vrygelaat sou word. Maar die wil van God was dat hul martelaars vir Christus moet wees en dit is beter as die lewe. Hul het ʼn marteldood gesterf in die naam van Jesus Christus. Hulle het vasgestaan in hul geloof tot op die laaste oomblik. Hulle het nie die Naam van ons Here en Verlosser, Jesus Christus verloën nie.”

Op Maandag het Egiptiese Christene byeengekom om te bid vir die families van die slagoffers. Pous Francis het in reaksie op die video gesê, “Die bloed van ons Christenbroers en -susters is ʼn getuienis wat gehoor moet word. Hul enigste woorde was: ‘Jesus, help my!’. Dit maak nie saak of hul Katoliek, Ortodoks, Kopte of Protestante was nie. Hulle was Christene! Hul bloed is een en dieselfde. Hul bloed bely Christus.”

Back To Top
Soek