Skip to content

Khartoem: Twee Suid-Soedannese Pastors Staar die Doodsvonnis in die Gesig

Twee Suid-Soedannese pastors in gevangenskap in die Omdoermantronk in Khartoem staar moontlik die doodsvonnis in die gesig op beweerde aanklagte van die ontvangs en verspreiding van offisiële inligting en dokumente, die aanhitsing van onvergenoegdheid onder plaaslike magte, rusverstoring en oortredings wat verband hou met die belediging van geloofsoortuigings.

Twee Suid-Soedannese pastors in gevangenskap in die Omdoerman-tronk in Khartoem, staar moontlik die doodsvonnis in die gesig. World Watch Monitor het in Februarie berig dat Yat Michael en Peter Yen (ook bekend as David Yein Reith in sommige berigte) aangehou word op onbekende plekke nadat hul gearresteer is gedurende ʼn besoek aan Kartoem, Soedan se hoofstad, vanaf hul tuisland in Suid-Soedan, wat in 2011 onafhanklikheid behaal het.

Hul is op 4 Mei aangekla van ʼn reeks oortredinge, twee waarvan – die dwarsboming van die grondwetlike sisteem en oorlogverklaring teen die staat – die moontlikheid van die doodsvonnis of lewenslange gevangenis inhou.

Michael is in hegtenis geneem op 21 Desember, nadat hy die oggenderediens waargeneem het by die Sudan Presbyterian Evangerlical Church (SPEC) se Khartoem, Bahri gemeente. Michael en sy vrou het hul kind na Khartoem geneem vir mediese sorg, maar is gevra om die erediens tydens hul besoek waar te neem, het bronne aan World Watch Monitor vertel.

Yen is in hegtenis geneem op 11 Januarie nadat hy ʼn brief, wat navraag doen oor sy kollega Michael se arrestasie, aan die Godsdienssake kantoor in Khartoem afgelewer het in Desember. Albei mans behoort aan die South Sudan Presbyterian Evangelical Church. Hul saak is uitgestel tot vandeesweek as gevolg van die beskikbaarheid van ʼn verteenwoordiger vanaf die Nasionale Sekuriteitsdiens (NISS). Die prokureur wat die twee mans verteenwoordig, glo dat die aanklagtes teen hulle opgeskort sal word, maar die betrokkenheid van die NISS mag ʼn ander uitspraak tot gevolg hê.

Op Dinsdag 19 Mei het Michael en Yen op aanklagte gestaan van die ontvangs en verspreiding van offisiële inligting en dokumente, die aanhitsing van onvergenoegdheid onder plaaslike magte, rusverstoring en oortredings wat verband hou met die belediging van geloofsoortuigings. Hul kan ook klagtes van dwarsboming van die grondwetlike sisteem en oorlogverklaring teen die staat in die gesig staar, wat ʼn ernstiger vonnis tot gevolg kan hê. Die regter het gister egter die verhoor met 12 dae uitgestel.

Terwyl Suid-Soedan ʼn meerderheid Christenbevolking het, is Soedan hoofsaaklik Moslem. Tog is duisende Suid-Soedannese wat van die burgeroorlog gevlug het na Soedan, so ingeburger dat hul steeds kies om daar te woon. Geopende Deure versoek gebed vir pastors Michael en Yen en hul families.

Back To Top
Soek