Skip to content

Kenia: Geopende Deure Staan Saam met die Kerk terwyl Sosiale Krisis Toeneem

Onsekerheid in noordoostelike Kenia en die bedreiging vanaf Al-Sjabaab het hierdie area in krisis gedompel.

Die onsekerheid en die teiken van Christene wat woon en werk in hierdie areas het nie net bloot die Liggaam van Christus negatief beïnvloed nie, maar het ook ʼn sosiale krisis tot gevolg namate nie-Moslem staatsamptenare weier om terug te keer na die area.

St. Andrew’s Anglican Church in Mandera het hul deure gesluit nadat die gemeente 11 lede verloor het in die onlangse Al-Sjabaab aanvalle in Mandera. Die Goewerneur van Mandera, Mnr. Ali Roba het aan Keniaanse media vertel dat, “Die onlangse aanvalle het ons grootliks beïnvloed. Tans het 50 gesondheidswerkers reeds [die distrik] verlaat en 20 hospitale is toegemaak.”

“Die nagevolge het ook versprei tot in Wajir, Garissa en selfs Lamu waar staatsamptenare hul bedankings verlede maand ingedien het,” berig ʼn Geopende Deure-werker wat verantwoordelik is vir die kommunikasie van die behoeftes van vervolgde Christene in Kenia.

Die Kenya National Union of Teachers (KNUT) het onlangs ʼn verslag gepubliseer wat sê dat hulle die getuienisse van meer as 1 053 onderwysers het, wat beskryf hoe hulle deurloop onder folterende vervolging deur hul Moslem-studente, -onderwysers en -ouers wat minagtend na hul verwys as adhome (slawe), nguraro (harde hare) of kafir (onheilig), op hul spoeg, hul aanrand en hul met die dood dreig.

Geopende Deure het onlangs met ʼn klein groep kerkleiers en staatsamptenare van Mandera ontmoet. “In ons kontak met Christene wat vanuit Mandera gevlug het, het ons gevind dat hulle getraumatiseer is, dat hul rou en kwaad en deurmekaar is oor die twee aanvalle waarin hul almal iemand wat hul geken het, mee saamgewerk of aanbid het, aan die dood afgestaan het. Die gewelddadige moorde op Christene het hul geskok en hul eie geloof geruk,” berig die Geopende Deure-werker.

Afgesien van hierdie druk, is daar baie Christene wat kies om terug te keer na die streek. “Ten spyte van alles wat om ons aangaan, is ons daarvan oortuig dat die teenwoordigheid van die Kerk die aanslae en vooruitgang van die [donkerte] beperk en teenstaan en daarom moet ons hier bly en sterkstaan,” het Pastoor Moses van Mandera dapper verklaar. “Dinge kon baie erger gewees as daar nie ʼn Kerk in Mandera was nie. Maar ons het die gebedsondersteuning van ons broeders nodig.”

Geopende Deure ondersteun steeds hierdie dapper Christene op verskeie maniere en vra Christene om asseblief te bid dat die Here ons broers en susters in noordoostelike Kenia deur Sy Gees sal versterk sodat hul die druk sal kan teenstaan. Bid ook dat hulle in geloof aan Christus sal klou sodat hulle daartoe in staat sal wees om Hom aan almal om hul te openbaar.

Back To Top
Soek