Jou ondersteuning aan die werk
ʼn Terugblik na hoe jou geskenke en gebede vervolgde Christene regoor die wêreld gehelp het.
Niger
Die tekort aan Bybels in Niger beïnvloed die Christen-jeug. Ons plaaslike vennote vertel ons dat Christenskap in die suidelike dele van die land versprei, veral onder die jongmense. Daar is baie jong Christene en nuwe bekeerlinge, wat in oorwegende Moslem-gemeenskappe bly.
Geopende Deure se vennote het danksy jou geskenke en gebede onlangs meer as 130 Bybels aan jong gelowiges in die noordelike streek van Niger uitgedeel. Hierdie jongmense word groot in ʼn plek waar dit moeilik is om toegang tot ʼn Bybel te kry – baie van hulle leef onder konstante druk en dreigende aanvalle.
Om hierdie Bybel te ontvang het, was vir Rashida ʼn antwoord op gebed. “Wanneer ek ʼn Bybel êrens sien, begin ek dadelik daaruit lees. Dit is vir my lekker om Bybel te lees, al het ek nie my eie Bybel nie,” sê sy. “Maar nou is ek so dankbaar dat ek my eie Bybel as geskenk gekry het.”
“Ek is so bly om ʼn nuwe Bybel te hê wat ek myne kan noem!” sê Dorcas, een van die gelowiges wat ʼn Bybel gekry het. “Hierdie Bybel is vir my ʼn wapen om die lewensgeveg te wen.”
Laos
Verlede jaar in Oktober het agt Christen-gesinne in Laos die ondenkbare ervaar: Hulle is uit hulle huise gesit, eenvoudig omdat hulle besluit het om Jesus te volg.
Nadat hierdie 26 mense geweier het om hulle geloof te ontken, moes hulle hul besittings oppak. Hulle het met swaar harte na ʼn nuwe blyplek getrek, omtrent 6 myl buite hulle dorpie, waar hulle toegelaat is om hulself te hervestig.
Plaaslike leiers, pastore en gelowiges in die gebied het die uitgesette gesinne gehelp om huise op te rig. Sommiges het kos, boutoerusting en huishoudelike items gebring, terwyl ander hulle dienste aangebied het om die gebied skoon te maak en die huise te help bou. Geopende Deure het deur plaaslike vennote ook ingespring en met fondse gehelp om sinkplate vir die dakke en materiaal vir die mure aan te koop.
Dit is ʼn kragtige herinnering aan hoe jou geskenke en gebede regoor die wêreld aan die werk is. Dit is egter ook ʼn herinnering aan die koste van geloof vir gelowiges in hierdie deel van Laos. Ons plaaslike vennote het gevra dat ons saam met hulle sal bid dat God sal help om vir hulle vrede en wysheid te gee, en dat Hy in hulle daaglikse nood sal voorsien.
*Foto slegs verteenwoordigend.
Irak
Die Nineve-vlaktes in Irak is ʼn spesiale plek.
Hierdie gebied, waarvan die wortels al die pad terug tot in Jona se tyd gevind kan word, was omtrent heeltemal verwoes deur ISIS. Die aanvalle was teen die Christene in Irak gemik.
Dit is ook hier waar Christene oor die laaste tien jaar, met die hulp van jou geskenke en gebede, begin het om weer die teenwoordigheid van gelowiges in Irak op te bou en te herstel.
“Ons doel was om met die Kerk hande te vat in solidariteit met die mense se swaarkry,” vertel een van die Geopende Deure-vennote in Irak.
“Die woord ‘dankie’ is nie genoeg nie,” sê Farah, ʼn haarstilis in die omgewing, wat deur middel van ʼn mikrolening gehelp is. “Julle het ons gehelp en bygestaan, julle ondersteuning was so bemoedigend. Dit het my in staat gestel om my onderneming weer van die grond af te kry, om weer op my eie voete te staan.”
Jou ondersteuning oor die afgelope tien jaar (en die ondersteuning wat jy steeds deur jou gebede en geskenke aan ons geloofsfamilie in Irak bied!) wys aan die wêreld dat God se mense waarlik een Liggaam is. Die Christen-teenwoordigheid in Irak is nie heeltemal vernietig nie – en deur God se genade sal dit ook nooit wees nie.