Getuienis: Jou gawes en gebede het ʼn reddingsboei verskaf
Jou geskenke en gebede het ʼn reddingsboei aan pastoor Soré verskaf toe gewelddadige vervolging hom en sy gesin van hul dorp in Burkina Faso verdryf het.
Die eerste keer toe pastoor Soré se dorp aangeval is, het ekstremiste die mense beroof. Die tweede keer het hulle die vroue verkrag. Die derde keer het hulle alles tot op die grond afgebrand.
Pastoor Soré, wat in Burkina Faso woon, het geen ander keuse gehad nie…
“Wanneer die terroriste Christene vind, sê hulle vir hulle die tyd van Christenskap is verby,” het hy gesê. “Ons moes vlug om ons lewens te red.”
Pastoor Soré en sy vrou, Teresa, het ʼn pragtige huis en florerende kerk verlaat en met hul eie twee kinders en 15 ander wat wees gelaat is of in hul sorg toevertrou is, ontsnap. Hulle is onder twee miljoen mense wat deur jihadistiese groepe in Burkina Faso uit hul huise verdryf is. Die land het 40 persent van sy grondgebied, hoofsaaklik in die noorde, aan terreurgroepe verloor.
Ná vier dae op die pad was die groep te groot om in ʼn kamp vir interne ontwortelde persone (IDP’s) in te trek. Daarom het hulle ʼn skuiling op ʼn verlate stuk grond opgerig.
“Ons was so hartseer toe ons in hierdie leë ruimte aankom,” sê pastoor Soré. Dis 2km se stap na die naaste skoonwaterpomp. In die reënseisoen spoel water deur hul tydelike tent, wat muskiete en slange lok. En in die somer is dit ondraaglik warm.
Nie vergeet nie
Maar danksy jou goedhartige ondersteuning is pastoor Soré nie alleen nie.
“Julle het my eerstens met gebed gehelp, wat my regtig vertroos het,” het pastoor Soré gesê. “Toe het saad en kunsmis my gehelp om gewasse te kweek en my gesin te voed. Ek hou die mielies wat ons met julle hulp verbou het in my hande. Ons eet dit nou al drie maande!”
Hy voeg by: “Die Geopende Deure-span besoek ons gereeld, so ons weet julle deel ons pyne en laste en neem dit na God.”
Maar wat vir pastoor Soré belangriker as enigiets anders is, is om te weet dat jy saam met hom staan. Jou omgee versterk sy geloof en sy merkwaardige bediening…
“Ons is ontwortel, maar Jesus is nie, en Hy sal nooit uit ons lewens weggeneem word nie,” sê pastoor Soré. “Ek vra God om deure vir my oop te maak om met evangelisasie voort te gaan. Ten spyte van ons ellendige toestand, bring Jesus steeds mense na ons wat gered word.”
Hy voeg by: “As ek in die Bybel kyk, sien ek dat alle krygers probleme ondervind het. Dit is vandag my beurt. ʼn Belangrike waarheid oor lyding is dat dit nooit vir ewig is nie – maar Jesus is vir ewig.”
Bid asseblief
“Ek vra Christene regoor die wêreld om te bid. Bid dat Christene in Burkina Faso, veral dié wat ontwortel is en saam met my woon, sterk in hul geloof sal bly. Bid dat my geloof sterk sal bly en dat ek sukses sal behaal in die werk waarvoor God my geroep het. En bid vir grond waar my familie kan bly en Christus kan volg.”
– Pastoor Soré
Ons is ontwortel, maar Jesus sal nooit uit ons lewens weggeneem word nie.
Staan saam met gelowiges regoor die wêreld wat weens hul Christelike geloof geweld, ontworteling en isolasie in die gesig staar.
Jou geskenk kan help om hulle te voorsien van dinge soos skuiling, voedselhulp, dissipelskap en traumasorg sodat hulle selfs te midde van vervolging oorwinnaars kan wees!