Skip to content

Irakese Christene ervaar terugslag in hul terugkeer huistoe

Op 24 Oktober 2017, het gevegte tussen Irakese en Koerdiese magte uitgebreek in en om die Christendorpe Telskuf, Bakufa, en Batnaya. As gevolg hiervan is twee tienerseuns, van 12 en 14 jaar, ondermeer gewond. Daarmee saam het sowat 850-900 Christenfamilies uit hierdie dorpe gevlug.

Christene is weereens vasgevang in die middel van gevegte nadat die Koerde in September ten gunste gestem het van onafhanklikheid van Irak. ʼn Bron het aan World Watch Monitor* gesê “Ons het die Koerde wat gebiede eis wat nie aan hulle behoort nie, die Irakiërs wat gebiede eis wat nie aan hulle behoort nie, en die Christene, aan wie die grond wettig behoort, wat weereens gebruik word as aanvaarbare kollateraal.”

Dit is ʼn geweldige terugslag vir Christene wat begin het om terug te keer na hul bevryde dorpe. Nou het baie gevlug na ander dorpe in die streek, terwyl ander teruggekeer het na ʼn Geopende Deure-vlugtelingskamp. “Oor die laaste paar maande het die kamp begin leegloop, met slegs twee families wat oorbly. Nou is al 40 karavane weer bewoon…,” deel ons woordvoerder.

Bid asseblief dat die gevegte tot ʼn einde sal kom en dat ʼn oplossing gevind sal word. Mag vrede sonder ʼn oponthoud herstel word, sodat mense kan terugkeer na hul huise. Bid ook vir almal wat beseer is tydens die gevegte.

Back To Top
Soek