Skip to content

Irak: “Ek het trane van vreugde,” sê Irakkese kerkleier

Daar word berig dat Karamles, Qaraqosh en Bartella onlangs bevry is uit die greep van die Islamitiese Staat.

Ontwortelde kerkleiers wat in Erbil woon, het hul onlangs-bevryde tuisdorpies gaan besoek. Hulle is van die eerstes, wat nie vegters is nie, wat hierdie streek weer gaan besoek het, nadat die inwoners noodgedwonge, meer as twee jaar gelede, moes vlug toe IS-militante hulle dorpies binnegeval het.

Onder hulle is kerkleier Thabet van Karamles. Thabet kon sy gemeente gelos het en elders gaan asiel soek het. Hy het egter die afgelope twee jaar sy ontwortelde gemeenskap in ʼn kamp vir ontwortelde persone in Erbil gedien.

“Ek is so bly dat ek dit kan doen,” het Thabet gesê terwyl hy ʼn kruis stewig op ʼn heuwel geplant het wat uitkyk oor Karamles. “Ek glimlag van oor-tot-oor en huil terselfdertyd trane van vreugde. Hierdie is die reis waarvoor ek twee jaar lank al bid.”

Kom ons loof die Here saam met ons Irakkese broers en susters dat hierdie dorpe bevry is. Daar is egter nog ʼn lang en moeilike pad wat vir hierdie Christene voorlê voordat hulle sal kan terugkeer na hulle verwoeste gemeenskappe. Bid dat hierdie ontwortelde gemeenskappe baie wysheid sal hê rakende hul terugkeer, asook die herbouing van hul tuisdorpe.

Iraq is #2 op Geopende Deure se 2016 Wêreldwaarnemingslys.

Dankie dat jy bid!

Back To Top
Soek