Skip to content

Irak: Dodelikste bomaanval in byna 10 jaar

Een week nadat Irakkese magte die stad van Fallujah uit die mag van die Islamitiese Staat herower het, het Bagdad op die 3de Julie 2016, die dodelikste bomaanval sedert 2007 beleef.

Die BBC het op 4 Julie, 2016, berig dat die dodetal van die bomaanval op die 3de Julie in Bagdad, gestyg het tot 165. Die bom het ontplof in ʼn oorwegend Sjiïtiese-distrik in die Irakkese hoofstad, terwyl gesinne inkopies gedoen het vir die vakansie wat die einde van Ramadan aangekondig het. Daar word berig dat dit die dodelikste enkele bomaanval in Irak was sedert 2007. Die Islamitiese Staat (IS) het verantwoordelikheid vir die aanval geneem, en gesê dat dit deel is van “voortdurende veiligheidsoperasies.” Die aanval het plaasgevind ʼn week nadat Irakkese magte die stad van Fallujah uit die mag van IS herower het. Volgens die Irakkese verteenwoordiger van die Verenigde Nasies, Jan Kubis, poog IS-millitante wat “nederlae gely het op die gevegsfront, om wraak te neem vir hulle verliese deur kwesbare burgers te teiken.”

Henriette Kats, vervolgingsanalis vir Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys, lewer kommentaar: “Ons kan verwag dat IS meer sulke aanvalle sal loods in gebiede wat nie op die gevegsfront is nie, omdat hulle grondgebied verloor. Die Irakkese weermag en die Peshmerga (militêre magte van die selfregerende streek van Irakkese Koerdistan) nader tans Mosoel. Ons het verskeie berigte ontvang dat daar ʼn handjie vol Christene oor is in die stad. Hulle woon dikwels in vrees en waag dit nie om hulle huise te verlaat nie. Intussen hoop die interne ontwortelde Christene in Koerdistan dat hulle dorpies op die Nineve-plein binnekort bevry sal word. Hierdie is benoude en beslissende tye vir ons Irakkese broers en susters in Mosoel en elders in die land. IS het talle aanvalle uitgevoer tydens Ramadan. Baie vrees dat daar nog aanvalle sal wees.”

Bid asseblief gereeld dat die Here kragtig sal ingryp in hierdie situasie. Irak is #2 op die Geopende Deure 2016 Wêreldwaarnemingslys van plekke waar Christene die ergste vervolging ervaar.

Back To Top
Soek