Skip to content

Godsdiensvryheid in Nigerië onder bedreiging namate Boko Haram hul wreedheid voortsit

Die toename in Boko Haram se gebruik van selfmoordbomaanvallers tydens onlangse aanvalle in Nigerië en die Nigeriese Staat se onvermoë om die veiligheid van landsburgers te verseker, hou groot gevaar in vir godsdiensvryheid in Nigerië.

Associated Press het berig dat 86 mense op 30 Januarie doodgemaak is deur Boko Haram in beide Dalori en omliggende vlugtelingkampe in die noordooste van Nigerië. Drie vroue-selfmoordbomaanvallers was onder die Islamitiese militante. Die verslag dui daarop dat die Boko Haram-militante swaar gewapend was en in staat was om die Staat se militêre teenwerking vir ʼn langdurige periode te weerstaan. Die oorlewendes was teleurgesteld in hoe lank dit die weermag geneem het om te reageer op die aanval, en vrees dat soortgelyke aanvalle weer kan plaasvind.

“Terwyl Nigerië se weermag daarin geslaag het om Boko Haram te verdryf uit die groot dorpe in die noorde van die land, is die groep nog steeds aktief, gevaarlik en so wreed as ooit. Dit blyk ook asof hierdie onlangse aanval daarop dui dat Boko Harm sy fokus verskuif het na sagte teikens en meer selfmoordbomaanvallers gebruik. Die groei van Boko Haram en sy vasberadenheid om burgers aan te val, hou ongetwyfeld groot gevaar in vir godsdiensvryheid in Nigerië, veral omdat dit blyk asof die Staat nie die veiligheid van landsburgers kan verseker nie. In ʼn atmosfeer waarin dit wil voorkom asof ʼn radikale Islamitiese groep na willekeur aanvalle kan uitvoer, raak dit al hoe moeiliker vir Christene om te aanbid en hul geloof in vryheid te beoefen,” sê Yonas Dembele, ʼn vervolgingsanalis van die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys se navorsingspan.

Bid asseblief vir die beskerming van die Christene in Nigerië, asook vir goddelike wysheid vir die Nigeriese Staat om die wreedaardighede van die militante groepe in hul land te kan afweer.

Nigerië is #12 op Geopende Deure se 2016 Wêreldwaarnemingslys van plekke waar Christene die ergste vervolging ervaar. Vir ʼn volledige lys, besoek ons webblad by www.opendoors.org.za.

Back To Top
Soek