Skip to content

God se smokkelaar sterf

Broer Andrew, wie se geheime Bybelaflewerings agter die Ystergordyn tydens die Koue Oorlog aan hom die titel van “God se smokkelaar” besorg het en wat ʼn wêreldwye organisasie gestig het om vervolgde Christene te ondersteun, is op 27 September 2022 by sy huis in Harderwijk, Netherland, oorlede. Broer Andrew, wie se regte naam Andrew van der Bijl is, was 94 jaar oud.

Broer Andrew was vir 59 jaar met sy vrou, Corry, wat op 23 Januarie 2018 oorlede is, getroud. Die egpaar het hul hele lewe in Holland gebly en word deur hul vyf kinders en elf kleinkinders oorleef.

 

ʼn Lewe wat goed geleef is

Die organisasie wat hy gestig het, Geopende Deure, het 1 400 werknemers wat geestelike en fisiese ondersteuning bied aan Christene in meer as 70 lande wat regerings-, militante en sosiale bedreigings in die gesig staar. Hulle werk dikwels in die geheim, nes Broer Andrew gedoen het toe hy Bybels vir Christene geneem het wat in die stewige greep van kommunistiese regimes geleef het.

“Broer Andrew – ʼn dienaar van die Here, vader, oupa, ons broer in Christus en die geliefde stigter van Geopende Deure – het ons vandag verlaat en na sy ewige tuiste in die hemel vertrek,” sê Geopende Deure Internasionaal se hoof uitvoerende beampte, Dan Ole Shani.

“Hy het vir Christus geleef en in Christus gesterf. Ons dink in hierdie hartseer tyd aan sy familie en wil ons innige meegevoel aan hulle almal oordra. Ons bid dat God hulle met Sy liefde sal vertroos en versterk.”

 

ʼn Nederige begin

Ná sy geboorte in 1928 in die gebied van Holland se kanaalryke skiereiland wat noordwaarts vanaf Amsterdam na die Noordsee strek, het Broer Andrew teen die agtergrond van die opkoms van Nazi-mag in die aangrensende Duitsland grootgeword. Hy het die Duitse besetting van Holland gedurende die Tweede Wêreldoorlog eerstehands ervaar en daarna in 1946 by die Nederlandse weermag aangesluit om die rebellie in Nederlands Oos-Indië, nou Indonesië, te beveg. Hy het in 1949 teruggekeer huis toe met ʼn enkel wat deur ʼn koeël vergruis is en geen idee gehad wat om met sy lewe te doen nie.

ʼn Toenemende toewyding aan God het hom na ʼn opleidingskollege vir sendelinge in Skotland gelei, waarna hy in 1955 ʼn uitnodiging na ʼn kommunistiese jeugsaamtrek in Pole intvang het. Hier het hy ʼn tas vol Christelike traktaatjies afgelewer en ontdek dat kerke agter die Ystergordyn geïsoleer is en ʼn behoefte aan bemoediging het. In die daaropvolgende jare het hy opvolgbesoeke na Oos-Europa onderneem waartydens hy Christene ontmoet het wie se dienste, leiers en toegang tot Bybels en Christelike literatuur deur die owerhede onderdruk is.

 

Bybelsmokkelary

In sy outobiografie wat in 1967 verskyn het, God se Smokkelaar, word beskryf hoe hy in 1957 die grens na Joegoe-Slawië en ander lande agter die Ystergordyn gekruis het in ʼn helderblou Volkswagen Beetle wat vol onwettige Bybels gelaai was. Dit was die eerste van 16 boeke wat deur Broer Andrew geskryf is, waarvan meer as 10 miljoen kopieë verkoop is, en dit is in meer as 35 tale vertaal.

Die Bybelsmokkelary het in Junie 1981 ʼn hoogtepunt bereik, toe ʼn Geopende Deure-span van 20 mense in die nag ʼn pasgemaakte vragboot by China se kuslyn aan wal gebring het. Hulle het een miljoen Bybels, wat in 232 houers verpak was wat elkeen ʼn ton geweeg het, op die strand aan ʼn groep Chinese Christene oorhandig, wat dit na Christene in die res van die land versprei het.

“Ons missie word Geopende Deure genoem omdat ons glo dat alle deure oop is, enige tyd en op enige plek,” het Broer Andrew dikwels verduidelik. “Ek glo letterlik dat elke deur oop is om in te gaan en Christus te proklameer, so lank as wat jy gewillig is om te gaan en nie bekommerd daaroor is om terug te kom nie.” Sy reise het ʼn beraamde een miljoen myl in 125 lande beslaan.

 

Die Islamitiese Wêreld

Ná die val van die Ystergordyn het Broer Andrew sy aandag na die Islamitiese Wêreld verskuif en dikwels gesê dat die vinnige verspreiding van Islam die grootste uitdaging tot dusver vir die Christelike Kerk wêreldwyd inhou. Sy reise het meestal na die Midde-Ooste en Suid-Asië verskuif. Hy het persoonlike ontmoetings met leiers van verskeie Islamitiese fundamentalistiese groepe gehad. Hy was een van slegs ʼn paar Westerse openbare figure wat hierdie groepe gereeld as ʼn ambassadeur van Christus besoek het.

Ondanks die groeiende Islamitiese geweld teenoor Christene in die Midde-Ooste, Persiese Golf, Noord-Afrika en Suidoos-Asië, het Broer Andrew teen vergelding gepreek.

“Wanneer ons ʼn vyandige beeld van enige politieke of godsdienstige groep of nasie het, kan die liefde van God ons nie bereik om ons te roep om iets daaromtrent te doen nie,” het hy gesê. Hy het die woord “Islam” dikwels as ʼn akroniem vir “I Sincerely Love All Muslims” gebruik.

 

Gesogte toekennings

Koningin Beatrix van Nederland het Broer Andrew in 1993 tot ʼn ridder geslaan. In 1997 het hy die Wêreld Evangeliese Alliansie se Toekenning vir Godsdiensvryheid ontvang, wat sy leeftyd van diens aan lydende Christene en sy passie om die Evangelie te versprei erken. In 2003 het hy die Erfenis van Getrouheid-toekenning van die Christenvereniging vir Senior Volwassenes in Kalifornië ontvang.

Broer Andrew het egter gesê dat hy die trotsste daarop was om in die 1980’s as ʼn “Bloedbroer” van die Apache Indiaanse stam aangewys te word. As deel van die seremonie, het hy ʼn Apache-naam gekry wat beteken “Hy wat deur die lyne breek”.

Bykomend tot die wêreldwye verspreiding van Bybels, help Geopende Deure met geestelike ontwikkeling, ekonomiese verligting, geletterheids- en beroepsopleiding, traumaberading en ander ondersteuningsdienste in lande waar dit die gevaarlikste is om as ʼn Christen te leef.

 

ʼn Groeiende nalatenskap

Lynette Leibach, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, sê Broer Andrew het ʼn ingrypende invloed gehad op die generasies waarvan hy deel was en dat hy baie gemis sal word. “Ons is dankbaar vir Broer Andrew se geloof, gehoorsaamheid en voorbeeld. Sy moed en vasberadenheid het die realiteit oor die vervolging van Christene in die openbare sfeer gebring.

“Hy laat ʼn groeiende nalatenskap in die wêreldwye bediening van Geopende Deure agter, wat jaarliks miljoene van die mees vervolgde Christene in meer as 70 lande bereik. God se Smokkelaar, wat meer oor sy lewe en bediening vertel, hou aan om lesers te inspireer om as ʼn stem vir die vervolgde Kerk op te tree.”

 

Voortsetting van die reis

Lynette verduidelik dat meer as 360 miljoen Christene vandag hoë vlakke van vervolging en diskriminasie in die gesig staar – wat beteken dat daar nog baie meer is om te doen. “Ons wil die reis wat hy begin het voortsit, met die gedeelde visie om Christene oral te betrek by die versterking van die mees vervolgde gelowiges sodat die globale Kerk God se getroue getuienis aan die wêreld kan bly.

“ʼn Netwerk van gelowiges hou vandag aan om getrou die oproep te beantwoord om vir ons vervolgde geloofsfamilie te bid, by hulle te wees en hulle te ondersteun sodat hulle kan aanhou om die Koninkryk van God ondanks vervolging in hul gemeenskappe en nasies te verteenwoordig. Mag ons in ons geloofsreis bemoedig en geïnspireer word deur die geloof van dié wat ons vooruitgegaan het, soos Broer Andrew.”

 

Meer inligting

Vir meer inligting of om ʼn onderhoud te reël, kontak asseblief vir Elizabeth Botha, mediabeampte by Geopende Deure, by [email protected], 083 227 8164 of 011 888 9341.

Geopende Deure Suider-Afrika (ODSA) is deel van die Geopende Deure Internasionaal-bediening, wat vervolgde Christene in meer as 70 lande regoor die wêreld ondersteun met die lewering van Bybels en Christelike literatuur, besoeke aan vervolgde Christene, dissipelskap en opleiding, noodleniging aan slagoffers van vervolging en natuurrampe, en die verkondiging en bevordering van bewustheid deur voorspraak.

 Mediaverklaring uitgereik deur Elizabeth Botha

Mediabeampte: Geopende Deure Suider-Afrika

Tel: 083 227 8164 / (011) 888 9341

Epos:[email protected]

Foto’s:

Foto 1: Broer Andrew op reis met sy Volkswagen Beetle.

Foto 2: Broer Andrew saam met ʼn vlugteling in Peshawar, Pakistan.

Foto 3: Andrew van der Bijl of Broer Andrew, soos hy algemeen bekend is.

Back To Top
Soek