Skip to content

Wonde van vervolging wat genees

Mary se ontvoering deur Fulani-ekstremiste het gedreig om haar lewe te verwoes en haar geloof te vernietig. Maar jou bydraes en gebede het hierdie jong Nigeriese vrou en haar familie gered.

Waarskuwing: Sommige mense kan Mary se storie ontstellend vind.

Mary* is vir 54 dae deur ekstremistiese Fulani-militante gevange gehou. Sy is herhaaldelik seksueel misbruik en oor haar geloof gespot. Sy is gedwing om kos te koop vir haar ontvoerders terwyl sy slegs van die diere se kos gehad het om te eet.

Hierdie beproewing, diep in die woude van die noordwestelike deel van Nigerië, het een doel gehad: Om hierdie 20-jarige vrou se geloof in Jesus te vernietig en haar Christen-gemeenskap te ontwrig. Dit is die taktiek van Islamitiese ekstremiste regoor sub-Sahara Afrika, en hulle word al hoe meer gewelddadig, brutaal en moorddadig in hulle vervolging van gelowiges.

“Ons was in die Sondag-erediens toe ons ʼn geweerskoot hoor,” onthou Mary. “Almal het begin hardloop, hardloop, hardloop. Sommige mense het geval. Hulle val Christene aan omdat ons Jesus aanbid, en hulle wil ons uit die land wegjaag.”

In die chaos en terwyl mense om haar doodgemaak word, het Mary haar suster hoor roep – en teruggegaan. Dit was ʼn fout. Mary en drie ander vroue is deur die militante gevange geneem. “Hulle het gesê dat as ons nie saam met hulle gaan nie, hulle ons gaan doodmaak,” het sy gesê.

Wat in die daaropvolgende weke gebeur het, het Mary vir altyd verander. Maar te midde van die angs, pyn en vernedering, het Mary aan haar geloof vasgehou. Sy het selfs die moed gehad om die Evangelie met haar ontvoerders te deel. “As jy jou lewe vir Jesus gee, sal Hy jou vergewe en sal jy kan ophou om al hierdie dinge te doen,” het Mary vir hulle gesê.

Op een of ander manier het Mary se familie die geld bymekaar gemaak om die losprys vir haar vrylating te betaal. Hulle het meer geld geleen as wat hulle ooit sal kan terugbetaal – wat in Nigerië se kultuur van eerbaarheid ʼn verleentheid oor hulle gebring het wat hulle nie kon afskud nie.

Ten spyte van haar vryheid, het Mary egter steeds swaargekry. “Die pyn was nog daar. Elke aand het ek gedroom oor wat met my gebeur het. Ek kon nie tussen mense wees nie. Ek het gelag, maar nie in my hart nie. Ek het nie vrede gehad nie.”

“Ek dank God vir die vrede wat Hy in my lewe gebring het.”

Jou ondersteuning deur Geopende Deure het in hierdie tyd ʼn verskil gemaak. Mary is uitgenooi na ons traumasorgsentrum, waar sy traumaberading ontvang het en haar identiteit in Christus herontdek het. Geopende Deure se vennote het haar ook gehelp om noodsaaklikhede vir haar familie te koop en het op daardie stadium ook vir Mary se skoolopleiding betaal, omdat daar nie geld oor was om skoolfonds te betaal nadat haar losprys betaal is nie.

Jou bydraes en gebede het Mary versterk en gehelp om teen gewelddadige vervolging op te staan. Hierdie gelowige jong vrou is ongelukkig verlede jaar oorlede aan komplikasies ná ʼn operasie. Mary en haar familie wou gehad het dat haar storie vertel moet word, aangesien baie van hierdie stories nie vertel word nie. Ons visie is dat niemand vervolging en trauma alleen in die gesig moet staar nie.

In haar laaste onderhoud met Geopende Deure het Mary gesê: “Ek dank God vir die vrede wat Hy in my lewe gebring het. En ek dank Hom dat Hy mense soos julle gebruik om my te help.”

BID ASSEBLIEF

  • Dank die Here vir Mary se lewe en geloof en bid vir haar familie waar hulle nou die lewe sonder haar moet aanpak.
  • Bid vir die Here se beskerming oor ander jong Christen-vroue in Nigerië, wie se lewens daagliks in gevaar is.
  • Staan saam met die Kerk in Afrika, en bid met vrymoedigheid vir die einde van die gewelddadige vervolging..
Back To Top
Soek