GEBEDSVERSOEK: Suid-Filippyne geruk deur twee bomontploffings.
Twee ontploffings het Jolo in die Suid-Filippyne gister, 24 Augustus 2020, net voor die middaguur getref. Minstens tien mense is dood in die ontploffings in Jolo, wat bekend is as ʼn sterk vesting van die Abu Sayyaf-groep, wat affiliasies met die Islamitiese Staat het. Geen groep het sover verantwoordelikheid aanvaar vir die bomontploffings, wat plaasgevind het naby die twee katedrale wat in Januarie 2019 gebombardeer is, nie.
Die eerste bom het teen 11:00 plaaslike tyd naby Plaza Rizal Park (ʼn plek wat gereeld deur baie mense besoek word) ontplof. Talle burgerlikes en militêre personeel is in die ontploffing beseer. Die tweede bom het teen 13:20 naby ʼn kommersiële plek ontplof waar baie klein ondernemings en straatverkopers sake doen. Volgens berigte was daar vorige bomdreigemente in hierdie gebiede. Ondersoeke na die oorsaak van die ontploffings duur steeds voort.
Die owerhede is nou besig om die gebied te fynkam, aangesien hulle vermoed dat nog bomme geplant is.
Een van Geopende Deure se vennote in die gebied, Omar, was op die toneel van die eerste ontploffing ʼn paar minute voordat die bom ontplof het. “Gelukkig het hy die gebied verlaat 10-15 minute voordat die eerste bom ontplof het. Ons prys God dat daar geen ongevalle is onder die mense saam met wie ons werk nie,” sê een van ons vennote.
Ons plaaslike vennote vra vir gebed vir die volgende:
- Bid vir genesing vir diegene wat ernstig gewond is tydens die ontploffing.
- Bid dat die Here die slagoffers se geliefdes sal vertroos en by hulle sal wees.
- Bid vir vertroosting en voorsiening vir klein ondernemings en plaaslike straathandelaars wat deur die bomontploffings geraak word.
- Bid dat almal wat die ontploffings gesien het in staat sal wees om hul trauma, vrees en skok te verwerk.
Dankie vir jou gebede!