Skip to content

GEBEDSOPDATERING: Hoe om vir die Kerk in Rusland en Oekraïne te bid

Talle mense regoor die wêreld is geskok en hartseer oor Rusland se inval in Oekraïne. Geopende Deure sluit by hierdie mense aan, en ons is erg bekommerd oor die welstand en veiligheid van almal wat by die inval in Oekraïne betrokke is.

Hoewel Geopende Deure nie in Oekraïne werksaam is nie, is ons bewus van verslae in die Russies-beheerde gebiede dat Christene voor die inval alreeds vervolging en diskriminasie ervaar het en aanduidings dat die Kerk dalk ondergronds sal moet gaan.

Ons doen ʼn beroep op Christene om te bid dat ons Prins van Vrede sal intree vir die Kerk in Rusland en Oekraïne en almal wat deur die inval geraak word.

 

Hier is vyf maniere waarop jy kan bid:

  1. Bid vir vrede: Bid dat die geweld sal eindig en dat al die partye in hul samesprekings vrede sal nastreef.
  2. Bid vir beskerming en voorsiening: Vra God om almal in Rusland, Oekraïne en dié wat na veilige bestemmings reis, teen skade te beskerm en dat Hy in al hul behoeftes sal voorsien.
  3. Bid vir politici: Vra God om in die harte van Rusland se leiers te werk, asook Russiese leiers wat toesig hou oor gebiede in Oekraïne wat onder Russiese beheer is.
  4. Bid vir ander lande wat deur die inval geraak word: Terwyl mense Rusland en Oekraïne verlaat om ʼn toevlug in ander lande te soek, bid dat dié lande en die Kerk liefde aan hulle sal wys en dat God hierdie lande in staat sal stel om vlugtelinge te help.
  5. Bid vir gelowiges: Bid dat die Here die Liggaam van Christus in Rusland en Oekraïne sal gebruik om gedurende hierdie tyd ʼn getuienis vir Hom en ʼn plek van hoop te wees. Bid dat die Liggaam van Christus in hierdie lande in die toekoms sal oorleef en floreer.

Mag ons geloofsfamilie in Rusland en Oekraïne die Here se teenwoordigheid as hul “rots en vesting” ervaar in hierdie dae van beproewing.

Dankie dat jy saam met ons bid!

Back To Top
Soek