Skip to content

GEBEDSFLITS: Wêreldwye dag van gebed vir die Kerk in Indië

Daar sal môre, 7 Mei, ʼn dag van gebed en vas vir ons broers en susters in Indië wees. Ons nooi jou dus om saam met ons broers en susters in Indië in te tree vir die genesing van dié land deur op hierdie dag te bid en te vas. 

Die Covid-19-situasie in Indië het ʼn skrikwekkende hoogtepunt bereik – byna 20 miljoen infeksies is tot dusver aangeteken, maar kundiges sê dat die werklike getal veel hoër is. Geopende Deure-vennote, vrywilligers en hul families word ook hierdeur geraak – sommige is in ʼn kritieke toestand, en ʼn paar is oorlede.  

Broer Solomon*, ʼn Geopende Deure-vennoot, deel: Die virus versprei vinnig in die landelike gebiede, soos klein dorpies en dorpe waar mediese geriewe feitlik glad nie bestaan nie – dit kan tot ʼn hoë sterftesyfer in hierdie gebiede lei. Die meeste van ons gemeenskappe is in dié gebiede gekonsentreer, en is dus meer kwesbaar. Ons prys God en dank almal wat vir Indië bid. Sowat twaalf van ons vennote en hul familielede het tot dusver van Covid-19 herstel. Hou asseblief aan om te bid vir ons vennote wat geliefdes verloor het en groot verdriet ervaar. Sowat 35 van ons vennote en hul familielede herstel nog van Covid-19, en twee van hulle ontvang suurstof behandeling.  

Sluit asseblief by ons en die Kerk in Indië aan, en vertrou dat God hierdie nasie sal genees. 

  • Bid dat die Here se genesing, vrede en vertroosting by almal sal wees wat siek is en oor die verlies van geliefdes treur, insluitend die Geopende Deure-vennote.  
  • Bid vir Indië se regering en gesondheidstelsel – die gesondheidstelsel is onder druk, hospitale oorskry hul kapasiteit en talle mense ly sonder toegang tot voldoende behandeling. 
  • Bid dat die Here Indië se hospitale sal dra en voldoende voorrade van die nodige medisyne, ventilators en suurstof sal voorsien.  
  • Bid vir Geopende Deure-vennote in Indië, wat nog gesond is, terwyl hulle voortgaan om te bedien, te bemoedig en voedselhulp te versprei aan diegene wat erg deur die inperkings geraak word en met weinige voedselvoorrade en hulpbronne moet klaarkom.  

 

Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word. – Hebreërs 4:16 

 

Dankie dat jy bid! 

 

*Naam verander vir sekuriteitsredes. 

Back To Top
Soek