Gebedsflits: Vandag onthou ons, ons vervolgde familie
Vandag onthou ons, ons familie in Mianmar, Sirië en Turkye en ons onthou Leah Sharibu in Nigerië en pastoor Raymond Koh in Maleisië, want hierdie maand is nog ʼn jaar sedert tragedie hul lewens getref het.
Militêre staatsgreep in Mianmar
Verlede week, 1 Februarie is drie jaar sedert die militêre staatsgreep in Mianmar plaasgevind het, waarin die militêre junta die leierskap van die land oorgeneem het. Ongelukkig het die situasie vererger met geweervuur en ontploffings wat steeds deur die strate weergalm. Die skaarste aan voedsel en die prys van kommoditeite neem toe, en die vrees vir geweld is steeds sigbaar.
Aardbewing in Sirië en Turkye
Die 6de Februarie was die eerstejaarsherdenking van die dodelike aardbewing wat dele van Sirië en Turkye verwoes het.
Ontvoering van Raymond Koh
Vandeesmaand op 13 Februarie sal dit sewe jaar wees sedert pastoor Raymond helder oordag ontvoer is. Die hofsaak oor sy ontvoering is steeds aan die gang en die volgende datum is vir Mei vanjaar vasgestel. Die Koh-familie hou aan hoop op sy terugkeer.
Ontvoering van Leah Sharibu
Die 19de Februarie sal ses jaar wees sedert Leah Sharibu saam met 109 ander studente deur Boko Haram, ʼn splintergroep van die Islamitiese Staat van Wes-Afrika ontvoer is. In die onmiddellike maande en jare ná haar ontvoering was daar sterk steun en veldtogte vir haar vrylating. Vandag het dit ongelukkig afgeneem. Geopende Deure gaan egter steeds voort om te vra vir gebede en voorspraak te doen vir Leah se veilige vrylating.
Bid asseblief:
- Bid dat God getraumatiseerde en moedelose gelowiges in Mianmar sal genees.
- Bid vir die mense van Sirië en Turkye wat steeds getraumatiseerd is en in rou is oor die aardbewing.
- Bid vir geregtigheid vir die Koh-familie en antwoorde rakende pastoor Raymond se ontvoering.
- Bid vir vertroosting vir Leah se familie en vir die veilige vrylating van Leah uit gevangeneskap.
“Verbly julle in die hoop; wees standvastig wanneer julle swaarkry; volhard in die gebed.” – Romeine 12:12