Skip to content

GEBEDSFLITS: Bid vir Uganda ná ontploffing in hoofstad

Twee ontploffings het vroeg gister, 16 November, in Uganda se hoofstad, Kampala, plaasgevind. Een was buite die sentrale polisiekantoor en die ander het blykbaar ʼn gebou wat aan ʼn versekeringsmaatskappy behoort, naby die parlementêre gebou, geteiken. Die plasing van die bomme dui daarop dat dit polities gemotiveerd was. Sover het niemand nog verantwoordelikheid aanvaar nie.

Uganda se assistent-inspekteurgeneraal van polisie, Edward Ochom, het aan AFP gesê: “Ons kan bevestig dat ʼn aanval plaasgevind het, maar is nog besig met ʼn ondersoek om te bepaal wie daarvoor verantwoordelik was.”

Emmanuel Ainebyoona, woordvoerder vir die Ministerie van Gesondheid, het op Twitter geskryf dat ʼn plaaslike hospitaal “tans na 24 ongevalle omsien. Verslae dui daarop dat vier mense in ʼn kritiese toestand is.”

Die owerhede het burgers gewaarsku om waaksaam te wees, aangesien die Geallieerde Demokratiese Magte (ADF) vir twee vroeëre bomaanvalle in Oktober verantwoordelik was. Laasgenoemde is ʼn Islamitiese militante groep wat met die Islamitiese Staat verbind word en die aktiefste is in die Noord-Kivu-provinsie van die Demokratiese Republiek van die Kongo.

Bid asseblief saam met ons vir die nuwe verwikkelinge in Uganda:

  • Bid dat Christene in die hoofstad nie deur vrees oorval sal word nie, maar te midde van hierdie omstandighede moedig, deernisvol en oordeelkundig sal optree.
  • Bid dat radikale ideologieë nie ʼn vastrapplek in Uganda sal kry nie, aangesien Christene, en veral bekeerlinge vanaf Islam, alreeds druk ervaar in sekere Moslem-gedomineerde gebiede.
  • Terwyl hierdie voorvalle teen die agtergrond van frustrasie oor swak bestuur in Uganda en die Demokratiese Republiek van die Kongo (wat dikwels vrugbare grond is vir die verspreiding van radikalisme) plaasvind, bid dat hierdie regerings ernstig sal soek na maniere om agteruitgang in aanspreeklikheid op te los.

Dankie dat jy bid!

Back To Top
Soek