Gebedsflits: Slagtings duur voort in die DRK
Sluit asseblief by ons aan in gebed vir ons familie in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), wat steeds slagting ná slagting in die gesig staar deur die Geallieerde Demokratiese Magte (ADF), ʼn ISIS-geaffilieerde rebelle-organisasie.
ADF-vegters het die dorpe Ntoyo en Potodu in die Beni- en Lubero-distrikte op Maandagaand, 8 September, aangeval en minstens 100 Christene oor twee dae doodgemaak.
In ʼn video wat via boodskap-toepassings gedeel is, kan gehoor word hoe die oorlewende families van Ntoyo, wat by ʼn begrafnisdiens bymekaargekom het, van hartseer skreeu oor die soveelste aanval op hul gemeenskappe.
“Diegene wat probeer vlug het, is doodgeskiet en ander is met kapmesse doodgemaak,” het eerwaarde Mbula Samaki van die 55ste CEBCE-kerk Mangurejipa in Ntoyo, gesê.
“Benewens diegene wat doodgemaak is, is ten minste 100 mense ontvoer en 16 huise, agt motorfietse en twee voertuie verbrand. Dit is verskriklik,” het eerwaarde Samaki bygevoeg.
Die volgende oggend het die terroriste weer toegeslaan, hierdie keer op Christen-boere in Potodu.
“Die ADF het in Potodu aangekom, sowat 6km vanaf Mabasele, ʼn woonbuurt in Oicha. Hulle het die Christen-boere doodgemaak wat teruggekeer het en op hul plase gekamp het,” het hy bygevoeg.
Hierdie aanvalle het plaasgevind minder as twee maande nadat 49 Christene in die dorpie Komanda doodgemaak is en net minder as ʼn maand nadat die ADF naburige gemeenskappe in die Beni- en Lubero-gebiede aangeval het en meer as 50 mense doodgemaak het.
“Mag God tot ons redding kom, want ons is keelvol vir hierdie moorde in die Beni-gebied,” het pastoor Paluku gekla.
“Die slagtings verswak Christene se geloof. Verlede maand was dit steeds slagting ná slagting, en in September, Here, help ons asseblief,” het eerwaarde Alli geweeklaag.
Beide eerwaardes het gedeel dat die meerderheid van die slagoffers in Ntoyo lede van die Rooms-Katolieke Kerk was. Sommige begrafnisse was vir gister, 10 September, op verskeie plekke geskeduleer, terwyl ander in ʼn massagraf by Ntoyo begrawe sou word.
Regeringsowerhede het die betrokke gemeenskappe besoek om met die inwoners te simpatiseer.
“Die situasie is bedenklik in die Bapère-sektor van die Lubero-gebied, waar Christene deur Islamitiese terroriste vermoor word. Asseblief, broers en susters, laat ons verenig in gebed om die vyand te verslaan. God sê as Hy nie oor die huis waak nie, waak ons tevergeefs. Laat ons saam bid vir die Christene in die ooste van die DRK,” het eerwaarde Alili gepleit.
Bid asseblief:
- Bid vir die Here se vertroosting en krag vir gelowiges in die oostelike deel van die Kongo wat familielede in hierdie aanvalle verloor het.
- Bid vir die Here se ingryping om die moorde te beëindig.
- Bid vir die veiligheid van diegene wat begrafnisse vir hul oorlede familielede beplan.
- Bid vir vrede terwyl woedende jongmense in Ntoyo dreig om te protesteer teen die regering se versuim om hulle en hul eiendom te beskerm.