Skip to content

GEBEDSFLITS: Leerlinge in Nigerië ontvoer

In die vroeë oggendure op Maandag, 5 Julie, het onbekende gewapende mans 140 leerlinge by ʼn Bethel Baptiste-kosskool in Kaduna-staat, noordelike Nigerië, ontvoer.

“Die ontvoerders het 140 leerlinge ontvoer, met slegs 25 kinders wat kon ontsnap. Ons het geen idee waarheen hulle geneem is nie,” sê Emmanuel Paul, ʼn onderwyser by die skool.

Dit is minstens die vierde massaskoolontvoering in Kaduna-staat vanjaar. Meer as 1 000 leerlinge is sedert Desember 2020 regoor noordelike Nigerië ontvoer en nege is doodgemaak. Meer as 200 leerlinge word nog vermis, met sommige wat slegs drie jaar oud is.

“Sover het niemand nog verantwoordelikheid aanvaar vir die ontvoering nie, maar daar word aangeneem dat dit die werk van bendelede is. Hoewel daar geen formele verbintenis tussen hulle en groepe soos Boko Haram is nie, is daar toenemende praatjies onder ontleders oor informele interaksie en beïnvloeding deur Islamitiese militante,” sê Jo Newhouse*, woordvoerder vir Geopende Deure se werk in sub-Sahara Afrika.

Volgens die polisie het Maandag se skoolontvoering plaasgevind slegs enkele ure nadat gewapende mans ʼn verpleegster se eenjarige kind saam met sewe ander mense vanuit ʼn Kaduna-gesondheidsentrum ontvoer het. Aanvallers het ten tyde van die ontvoering ook ʼn nabygeleë polisiekantoor aangeval om te verhoed dat polisiebeamptes die ontvoering by die Nasionale Tuberkulose- en Melaatsheid-hospitaal kon stopsit.

Bid:

  • Bid vir krag en vertroosting vir die ontvoerde kinders se ouers. Mag God hulle met hul kinders herenig.
  • Bid vir die kinders wat ontvoer is, en dat God hulle in hul nood met Sy liefde en krag sal toevou.
  • Bid dat die Nigeriese regering proaktief daarna sal streef om die beskerming van Nigeriese kinders te verseker deur dringende aksies om veiligheid by skole in noordelike Nigerië te herstel, en ʼn omvattende plan om te verseker dat kinders veilig kan terugkeer skool toe.

Dankie dat jy saambid!

*Naam weens sekuriteitsredes verander.

 

Back To Top
Soek