Skip to content

GEBEDSFLITS: Vier gelowiges in Indonesië onthoof

Bid vir gelowiges wat deur die aanval geskok is.

Vier mans van die dorp Kalimago in Sentraal-Sulawesi, Indonesië, is gisteroggend, 11 Mei, omstreeks 7:30vm deur Islamitiese ekstremiste onthoof. Dit is in dieselfde streek waar vier ander gelowiges in November 2020 doodgemaak is. Die slagoffers was tussen 42 en 61 jaar oud. 

ʼn Plaaslike vennoot van Geopende Deure, Ari Hartono*, sê die aanval was ʼn groot skok vir gelowiges in Sentraal-Sulawesi wat eintlik nog die November-aanval probeer verwerk. Hy sê: “Plaaslike inwoners van Sentraal- Sulawesi is nog getraumatiseer weens die terroriste-aanval in Sigi in November verlede jaar en het nog nie herstel nie. Hulle het nou ons gebede nodig.” 

Hoewel die aanval uitgevoer is deur die terroristegroep East Indonesia Mujahidin, wat ʼn verbintenis met die terroristegroep Islamitiese Staat het, is dit onseker of die onlangse aanval godsdienstig gemotiveer was. 

“Dit kon ook ter wille van oorlewing wees. Ná die Sigi-insident word die terroriste in Sentraal-Sulawesi toenemend onder druk geplaas deur die polisie en weermag. Hulle logistiek is uitgeput. Die enigste manier om te oorleef, is om mense van hul voedsel te beroof. Talle boere in hierdie gebied bly in die woud, wat ver van die dorp af is, en hulle word gevolglik deur die terroriste geteiken.” 

Geopende Deure se plaaslike vennote probeer nou uitreik na die kerke en families van die slagoffers.  

Intussen vra Broer Ari dat jy bid vir Sentraal-Sulawesi en gelowiges in dié gebied: 

  • Bid vir die kerkleiers in die dorp, die slagoffers se families en die polisie en weermag. Hopelik kan hulle al die mense in die dorp beskerm.
  • Bid dat God se vrede hierdie gebied sal bedek. Vrees en intimidasie heers in die mense se harte, maar God se krag is magtiger. Mag die harte van Sy mense aan hierdie waarheid herinner word. 
  • Bid vir beskerming oor God se mense in Poso en Sentraal-Sulawesi. Solank as wat die terroriste nie gevang word nie, sal die bedreiging voortduur. Mense is bang om na hul lande te gaan, wat beteken dat hulle nie kan werk nie en nie gewasse kan produseer nie. Dit het ʼn impak op hul ekonomiese situasie. Bid dat Sy engele die mense sal omring en hulle van enige bose planne sal verlos. 
  • Bid vir die Madago Raya Taakspan terwyl hulle hierdie terroristegroep probeer vang. Bid vir beskerming, krag en wysheid om hul werk te doen, en bid dat hulle die oortreders sal vang. 

 

Dankie vir jou gebede! 

Hierdie situasie duur steeds voort. Ons sal opgedateerde inligting publiseer sodra dit beskikbaar is.  

*Naam verander vir sekuriteitsredes. 

Back To Top
Soek