Skip to content

Gebedsflits: Die Kerk in Afrika suid van die Sahara word aangeval

Vandag, 21 Maart, is Menseregtedag in Suid-Afrika, waarop ons die opofferings wat gemaak is om demokrasie te bewerkstellig, onthou.

Op hierdie dag, besin baie regoor ons land oor ons menseregte-vordering. Een van hierdie regte is die vryheid van godsdiens, oortuiging en opinie, wat ons gelukkig is om in ons land te kan uitoefen. Dit is nie dieselfde in ander dele van ons vasteland nie.

In baie lande op die Wêreldwaarnemingslys (WWL) word Christene vir hul geloof geteiken. Hulle word vervolg, teen gediskrimineer en geviktimiseer omdat hulle kies om Christus te volg. Dit lei tot gewelddadige optredes teen Christene in sommige nasies, en meer subtiele in ander lande, ingeweef in wette, onderwys en werk.

Sommige van hierdie lande is in Afrika soos Nigerië (#6 op die WWL) wat onder die top 10 mees gewelddadige lande vir Christene is, en Burkina Faso (#20 op die WWL).

Met Paasfees wat nader kom, is dit ‘n te algemene storie: ‘n aanval teen God se mense op een van die belangrikste feesdae vir Christene. Dít is wat weer verlede Kersfees gebeur het – meer as 200 mense het hul lewens verloor in ‘n reeks wrede aanvalle teen dorpies met Christen-meerderhede in Nigerië.

So onlangs as Februarie het militante drie dorpies in die noorde van Sentraal-Burkina Faso aangeval en 170 mense doodgemaak. Dit het gebeur net dae ná ‘n aanval op ‘n kerk in die dorpie Essakane waar 15 Christene vermoor is.

Oor en oor sien ons hoe weerlose Christene, wat sonder hoegenaamd enige uitlokking aangeval word,” sê Jo Newhouse, Geopende Deure se woordvoerder vir werksaamhede in sub-Sahara Afrika.

Die Kerk in sub-Sahara Afrika is onder wrede aanval. Ons moet bid vir ons familie in Christus in hierdie streek.

Bid:

  • Bid vir krag en veerkragtigheid vir die honderde families wat elke dag deur hierdie aanvalle geraak word.
  • Bid vir bemoediging en voorsiening vir diegene wat weens hierdie aanvalle moes vlug.
  • Bid dat die Here in die steeds groeiende behoeftes van hierdie vlugtelinge in die gasheergemeenskappe sal voorsien.
Back To Top
Soek