Skip to content

Gebedsflits: Dalende aantal Christene in die Midde-Ooste

Christene is die sout en die lig. Stel jou dus ʼn plek sonder lig en smaak voor.” Biskop Chimoun Daniel van Irak beskryf met dié woorde treffend hoe die Midde-Ooste sonder Christene sou lyk.

Die aantal Christene in die streek waar die Kerk gebore is, is kommerwekkend.

Palestina, Sirië, Irak en Libanon het die afgelope 25 jaar talle Christene sien weggaan, wat tot ʼn skerp afname in volledige Christelike gemeenskappe gelei het.

  • Sirië: Christene het afgeneem van 1,8 miljoen in 2011 tot sowat 579 000 vandag.
  • Irak: Van 1,5 miljoen Christene in 2003 tot die huidige minder as 200 000.
  • Palestina: Christene in die Wesoewer en Gaza het afgeneem van 11% in 1922 tot ongeveer 1% – slegs 47 600 in 2017, met ʼn verdere afname sedertdien.
  • Gaza: Slegs sowat 600 van 1 000 Christene bly oor, wat meestal in kerke skuil sedert die oorlog in Oktober 2023 uitgebreek het.
  • Betlehem: Die Christelike bevolking het gedaal van 86% in 1950 tot 10% in 2017.

Baie faktore het bygedra tot Christene wat die streek verlaat, insluitende vervolging, onrus en oorloë, wat tot politieke onstabiliteit, korrupsie en sosio-ekonomiese probleme kan lei. Dit is verstaanbaar dat dit ook die vrees vir ʼn (onsekere) toekoms kan wees wat mense laat padgee.

In sommige gebiede van Irak het talle Christene al padgegee. Biskop Daniel sê: “Baie kerke is amper leeg; ons het dorpe met slegs leë huise en grond sonder eienaars.

Pastoor Nsier van Sirië sê dat hierdie Christelike uittog uit die Midde-Ooste ook die wêreldwye Kerk beïnvloed. “Die wêreldwye Kerk moenie voel dat dit gesond is wanneer die Kerk in Sirië of die Midde-Ooste ongesond is nie. Wanneer die Kerk nie meer in die Midde-Ooste bestaan nie, beteken dit dat die hele prentjie verwring is.

Alhoewel kerkbywoning in ʼn groot deel van die Levant-streek afneem, bly ʼn sterk en inspirerende gedeelte van die Kerk in hierdie lande oor.

My hoop vir die Kerk se toekoms is kerke vol mense, kerke waar Jesus se onderrig die fokuspunt is, waar mense mekaar liefhet en een liggaam is,” sê ʼn optimistiese Adham, wat vir die Palestynse Bybelgenootskap werk.

En daar is hoop . . . Israel se Christelike bevolking het die afgelope jare stadig toegeneem. Die drie oggendbyeenkomste by die Geboortekerk in Bethlehem is só vol dat daar soms geen plek is om te sit nie, het Adham gedeel. In Jordanië is daar ongeveer 181 500 Christene van alle denominasies, met die getal wat die afgelope paar dekades relatief stabiel gebly het. Hierdie voorbeelde herinner ons daaraan dat God steeds aan die werk is, selfs te midde van ʼn desperate situasie.

Geopende Deure kan danksy ons plaaslike vennote skouer aan skouer met Christene in die streek staan deur dissipelskap, traumaberading, Bybelverspreiding, ondersteuning met die vestiging van mikro-ondernemings, noodleniging en ʼn beroep op mense om te bid. Ons missie is om die Kerk te ondersteun om beide ʼn baken van lig en ʼn sentrum van hoop in hul gemeenskappe te wees.

Bid asseblief:

  • Bid dat die oorblywende Christene in die Levant-streek ʼn sterk getuienis van ons Here Jesus Christus sal bly.
  • Bid dat kerke in die streek versterk sal word en in getalle en geloof sal groei.
  • Bid dat kerkleiers standvastig sal bly en nie moed sal verloor nie, wetende dat “vir God is alles moontlik” (Matteus 19:26).
  • Bid dat diegene wie se familielede die land verlaat het, vertroosting in die Here en hul kerke sal vind.
  • Bid vir ons familie in Gaza, Israel, die Wesoewer, Libanon en ander streke wat geraak word deur die oorlog wat in Oktober 2023 begin het.
  • Bid vir blywende vrede en geregtigheid in die Heilige Land en die omliggende lande.

Die gebed van ʼn gelowige het ʼn kragtige uitwerking.” – Jakobus 5:16

Laat ons nooit die krag van gebed vergeet nie en aanhou om God te vra om Sy Kerk oor die hele streek te versterk en op te bou.

Back To Top
Soek