GEBEDSFLITS | Chinese huiskerke kan nie aardbewing-slagoffers help nie
ʼn Aardbewing met ʼn intensiteit van 6,8 het die suidwestelike Sichuan-provinsie van China op Maandag, 5 September, getref. Volgens berigte was die dodetal 82 teen 8 September en hou dit aan om te styg soos wat meer liggame tussen die puin ontdek word. Meer as 30 mense is as vermis aangemeld en sowat 300 is beseer, met meer as 1 300 huise en ander infrastruktuur wat volgens berigte beskadig is.
Die Covid-19-inperking was nog van krag in die Sichuan-provinsie toe die aardbewing plaasgevind het, en die geaffekteerde gebied het ook onder ʼn droogte en ʼn hittegolf deurgeloop.
Ons veldspan is besig om met ons kontakte in die gebied in verbinding te tree om die situasie van gelowiges en kerke na te gaan. Ons veldspan het gedeel dat dit ondanks ongeregistreerde huiskerke se begeerte om die slagoffers te help tans onmoontlik vir hulle is om te reageer en op te tree. Dit is omdat hulle nie die wetlike status het om goedkeuring te verkry om aan die operasie deel te neem nie.
“Gegewe die uiters streng beheer regoor die land weens die pandemie, bly dit uitdagend – selfs al wil ons broers en susters in huiskerke dolgraag onder hul eie name as vrywilligers aan die reddingsoperasie deelneem. Kerke tree in en bid vir die reddingswerkers, mense in die geaffekteerde gebied en die gladde vordering van die reddingswerk,” deel Xiu*, ʼn Geopende Deure-veldwerker.
Sluit asseblief by ons aan in gebed vir China en sy burgers, veral vervolgde gelowiges in China:
• Bid vir reddingsoperasies terwyl die dodetal besig is om te styg – dat reddingswerkers omvattende maatreëls sal toepas om verdere verliese en skade te voorkom.
• Bid vir wysheid vir die plaaslike regering wanneer hulle besluite moet neem oor die soek- en reddingsoperasies en bystand aan slagoffers in die nasleep van die ramp.
• Bid vir vertroosting vir die bedroefde families wat geliefdes verloor het, genesing vir dié wat beseer is en vrede en voorsiening vir almal wat deur die aardbewing geraak is.
• Bid dat gelowiges en kerke in China sal aanhou om as sout en lig te dien, veral gedurende hierdie tyd.
*Naam verander weens sekuriteitsredes.