Skip to content

GEBEDSFLITS: Bid vir Sri Lankane wat swaarkry

Die mense van Sri Lanka kry swaar weens die politieke en ekonomiese krisis in dié land, met baie gesinne wat tot een maaltyd per dag beperk word en, in uiterste gevalle, slegs ʼn koppie tee vir aandete het. Die voortslepende brandstofkrisis het sy tol op mense geëis, met baie mense wat vir ure moet toustaan vir petrol en ander wat noodgedwonge te voet reis.

Hoewel Geopende Deure se plaaslike vennote in staat is om aan baie mense noodleniging te voorsien, skep die voortslepende krisis in die land ʼn uitdaging om mense te bereik weens ʼn tekort aan vervoer en paaie wat gesluit is. Betogings maak dit ook gevaarlik om opleiding in sekere dele van die land aan te bied, en die tekort aan openbare vervoer en brandstof bemoeilik dit verder.

Pastoor Hasika, ʼn ma van twee wat by ʼn kerk in Nugegoda Colombo werksaam is, sê: “Om te reis, het weens die voortslepende brandstofkrisis en tekort aan openbare vervoer ʼn groot probleem geword. Ek moet soms sowat 10km loop om sekere gesinne te besoek.”

Daar is hoop dat die land binnekort na normaliteit sal terugkeer, met maande van massabetogings wat geëindig het toe president Gotabaya Rajapaksa sy bedanking amptelik aangekondig het nadat hy na die Maledive gevlug het.

Sri Lanka en sy nuwe president, Ranil Wickremesinghe, wat drie dae gelede (op 20 Julie) verkies is, het gebede nodig omdat daar verslae is oor ʼn stille openbare protes teen hom. Bid asseblief saam met ons vir Sri Lanka en ons vervolgde familie in dié land.

Bid

  • Bid dat wet en orde in Sri Lanka gehandhaaf sal word, aangesien die land nie nog inperkings of betogings kan bekostig nie. Die nasie vereis dat alle sektore na normaliteit sal terugkeer en teen hul volle kapasiteit sal funksioneer om ekonomiese stabiliteit te bewerkstellig.
  • Bid dat die Here in die hart van Sri Lanka se nuwe president sal werk sodat hy ʼn goeie en eerlike leier sal wees, wat sal help om die land uit sy huidige krisis te bring.
  • Bid dat ons plaaslike vennote nie deur enige moontlike inperkings of betogings verhinder sal word nie, en dat die Kerk in staat sal wees om ondanks die huidige situasie en noodwette in die land bymekaar te kom.
  • Bid dat kerkleiers en ons plaaslike vennote die wysheid sal hê om die Kerk in hierdie moeilike tyd te lei.

Dankie dat jy bid!

Back To Top
Soek