Skip to content

GEBEDSFLITS | Bid vir Iran terwyl die betogings aanhou

Betogings is al vir meer as ʼn maand in Iran aan die gang ná die dood van Mahsa Amini (22) op 16 September 2022. Dié jong vrou is in polisie-aanhouding dood nadat sy gearresteer is omdat sy na bewering haar kopdoek verkeerd gedra het. Meer as 12 000 burgerlikes, jonk en oud, is gearresteer, met meer as 200 sterfgevalle wat gerapporteer is en nog 13 mense wat in die Koerdiese gebied van Irak doodgemaak is deur Iraanse hommeltuig-aanvalle as vergelding vir die betogings.

Terwyl die betogings aanhou, lyk die moontlikheid vir talle inwoners van Iran sterker as ooit tevore dat die land van die heerskappy van Shi’ite Moslem-leiers bevry kan word. Dit kan waarskynlik lei tot die openbaarmaking van die ondergrondse Kerk in Iran en die beëindiging van die vervolging van Christene in die gebied.

Salman, ʼn Iran-kenner van Geopende Deure, hou die situasie fyn dop: “Christene in Iran is uiters hoopvol. Die betogings duur egter voort. Die Iraanse regering het twee wapens: Vrees en misleiding. Dit werk blykbaar nie meer nie. Die toekoms is terselfdertyd opwindend en onseker – Christene in Iran bid al vir jare vir vryheid om te aanbid.

Bid asseblief vir Iran:
• Bid vir vrede in Iran terwyl die betogings voortduur. Bid dat God dié wat familielede in die optogte verloor het, sal vertroos.
• Bid vir Iraanse gelowiges wat die gewonde mense in die strate help en toebroodjies aan mense voorsien wat op straat bly.
• Bid vir eenheid onder gelowiges van verskillende denominasies in die land.
• Bid dat die beperkings nie verskerp sal word nie sodat gelowiges kan aanhou om saam te aanbid.
• Bid vir die vrylating van talle gelowiges wat onregmatig gearresteer is.

Lees meer oor wat met die Kerk sal gebeur as die land van Iran meer vryheid het.

Dankie dat jy bid.

Back To Top
Soek