Skip to content
Asian women hold hands, pray

GEBEDSFLITS: Bid vir Geopende Deure se Teenwoordigheidsbediening

Teenwoordigheidsbediening is ʼn integrale deel van Geopende Deure se diens aan ons vervolgde familie in Christus. Hierdie deel van ons bediening stel ons in staat om by die vervolgde Kerk te staan te midde van hul swaarkry deur hulle daaraan te herinner dat hulle nie alleen is nie. Ons doen dit deur dinge soos fisiese ondersteuning, opleiding, mentorskap en besoeke.

Die Covid-19-pandemie maak dit egter moeilik om fisies teenwoordig te wees in die lewens van ons vervolgde familie. In talle lande word Christene meer as tevore geïsoleer weens die pandemie. Omdat die grense in verskeie lande gesluit is, kan ons hulle ook nie besoek om hulle te bemoedig nie. Om fisies in hul lewens teenwoordig te wees is van kardinale belang, veral in so ʼn moeilike tyd regoor die wêreld.

Een van ons vennote, suster Aniyah* van Bangladesj, sê: “Vervolgde gelowiges word dikwels geïsoleer, mishandel, verbaal mishandel en fisies gemartel. Gevolglik is dié gelowiges dikwels baie eensaam, gefrustreer en verloor hulle hoop. In so ʼn situasie soek hulle bemoediging, vertroosting en omgee vanaf ander gelowiges. Vervolgde gelowiges is baie gelukkig wanneer hulle bymekaar kan kom en gemeenskap met broers en susters in Christus vanaf ander lande kan hê. Hoewel hulle weet dat hul broers en susters in ander lande vir hulle bid, is dit oorweldigend wanneer hulle die geleentheid kry om hulle persoonlik te ontmoet. Daar word gesê: ‘Jou teenwoordigheid is duisend keer meer waardevol as jou woorde.’ Hierdie aanhaling is inderdaad baie waar vir ons broers en susters wat vervolg word, want dit verskaf ons groot vreugde wanneer ons broers en susters ons besoek. En hulle bemoediging vertroos ons en versterk ons intellektueel, emosioneel en geestelik. Dit laat ons besef dat ons nie alleen of vergete is nie, maar dat ons deel vorm van die Here se familie.”

So sluit asseblief by ons aan in gebed vir ons Teenwoordigheidsbediening:

  • Bid dat die uitdagings rakende die voortslepende Covid-19-reisbeperkings binnekort oorkom sal word sodat ons vennote (beide in daardie land en ander gelowiges) in staat sal wees om vervolgde Christene te besoek.
  • Bid vir wysheid vir ons vennote in verskeie lande, om te weet hoe om Christene in hierdie tyd te ondersteun.
  • Bid dat die Heilige Gees ʼn bron van vertroosting en krag sal wees vir die talle Christene wat geïsoleer is en alleen voel.
  • Bid en vra die Here of jy vanjaar by ons Teenwoordigheidsbediening moet aansluit, deur saam te reis om ons vervolgde familie te besoek.

Dankie dat jy saambid!

*Name weens sekuriteitsredes verander.

Back To Top
Soek