Skip to content

GEBEDSFLITS: Bid hierdie Paasfees vir vervolgde Christene

Paasfees is die hoogtepunt op die Christen-kalender. Die Kerk regoor die wêreld vier dan die hoop van die opstanding, lig na die donkerte. Ongelukkig is dit ook ʼn tyd van verhoogde gevaar vir ons vervolgde familie in Christus. Christene is oor die jare tydens Paasfees deur terroriste geteiken met bomaanvalle op kerke gedurende Paasfees-kerkdienste.

ʼn Kerk in Makassar, Indonesië, is op Sondag, 28 Maart 2021, direk na ʼn Palmsondag-kerkdiens gebombardeer. Altesaam 14 mense is in die aanval beseer en een van die selfmoordbomaanvallers is dood.

“Ons dank God dat geen Christene in die aanval dood is nie,” sê broer Sam*, koördineerder van Geopende Deure se werk in Suidoos-Asië. “Sommige gelowiges is egter ernstig gewond, en almal wat teenwoordig was is getraumatiseer. Hulle lewens sal nooit weer dieselfde wees nie. Ons vra die wêreldwye Kerk om vir ons broers en susters in Makassar bid.”

Sluit asseblief hierdie Paasfees by ons aan in gebed vir ons vervolgde familie.

Gebedspunte:

  • Bid vir ons familie in Indonesië terwyl hulle die trauma van die onlangse bomaanval probeer verwerk. Mag hierdie voorval hulle nie met ʼn gees van vrees vervul nie, maar mag hulle aanhou om sterk te staan.
  • Bid vir beskerming vir ons broers en susters regoor die wêreld terwyl hulle bymekaar kom vir Paasfees-kerkdienste.
  • Bid vir diegene onder ons vervolgde familie wat hierdie Paasfees geliefdes onthou en verlang na dié wat hulle in vorige aanvalle op Christene oor die Paastyd verloor het.

“Al sou ʼn leër teen my stelling inneem, sal ek nie bang word nie. Selfs al sou die aanval op my begin, sal ek nog steeds vertroue hê.” – Psalms 27:3

Dankie dat jy saam bid!

*Naam verander weens sekuriteitsredes.

Back To Top
Soek