Skip to content

Die wonderlikste eggo van alle tye

As jou hart ʼn storie kon vertel of jou lewe ʼn lied kon sing, watter lied sou dit sing? Wat sal jou storie sê oor wie jy is en wat jou lewe vir jou beteken? Sal jou storie eggo vir toekomstige generasies? Indien wel, wat sal die eggo sê en hoe sal jou geloof en jou reis met Christus die wêreld beïnvloed?

In die baie jare van Geopende Deure se bestaan, weet, sien en verstaan ons die krag daarvan om in die jonger generasie se toekoms te belê. ʼn Deel van ons visie is om te sien hoe die Koninkryk van God en die wêreldwye Kerk versterk en groei, ten spyte van wat hulle mag verduur. Ons hart is dat almal Jesus sal ken, om in elke taal en elke deel van die wêreld te verstaan en te leer wie Hy is.

Ons wil hê dat ons kinders hulle kinders van Christus sal vertel, en dan die wêreld sal vertel van die skatte in die hemel en die mooiheid om Jesus lief te hê. Dit kan slegs gebeur as ons vandag iets daaromtrent doen.

En jy kan…

Vir vervolgde gelowiges is die Bybel ʼn skat waaraan hulle in hul donkerste uur vashou, maar vir baie van hulle is dit nie die maklikste ding om te bekom nie. Nie almal kan eenvoudig ’n Bybel of die nuutste Bybelstudieboeke op Amazon bestel nie.

In Irak, ʼn land wat deur oorlog, vervolging en geweld geteister word, is daar baie Bybelliefhebbers soos jy – en om ʼn nuwe Bybel of Christelike boek in die hande te kry, is baie moeiliker as wat ons dink.

Gelukkig versprei jou saadjies van geloof die Woord van God aan gelowiges, jonk en oud, in die Midde-Ooste. Jou ondersteuning help om hulle van Bybels en Christelike boeke te voorsien. Dit leer ook jong leiers om groepe soos die jeug, vroue en kinders te lei en help hulle om lesings oor spesifieke Bybelse onderwerpe by te woon.

Ons het een van die begunstigdes van hierdie ondersteuning in ’n klein dorpskerk op die Nineve Vlaktes ontmoet. Die 21-jarige Sedar* se oë glinster altyd wanneer sy oor God, Sy Kerk en Sy Boek praat. “Die Bybel is die belangrikste Boek in die wêreld. Dit is die Boek wat ons die meeste leer. Dit is fundamenteel vir elke mens,” sê sy.

In ʼn tyd waarin die herbouing van die kerkgemeenskap in Irak sentraal is na die ontworteling deur die Islamitiese Staat, sê Sedar dat die Bybel onmisbaar is. “Ons moet ons lewens herbou met ʼn sterk basis. Die Bybel is daardie basis. Dit is die Boek wat ons na die ewige lewe neem en wat ons geluk gee.”

Sedar is baie aktief in die kerk en dien as ʼn vrywilliger in verskeie dissipelskapgroepe. Sy “wil graag mense uitnooi om na Jesus te kom met al hulle probleme en beproewings. Dit is goed om saam te bid wanneer ons swak voel. En ons moenie vergeet van ons Bybels nie – om die Bybel te lees, gee ons innerlike verde.”

Sedar se vriendin, Hanen* (26), wat ook ʼn vrywilliger by die kerk se dissipelskapgroepe is, sê: “Jy kan enige tyd na die Bybel gaan.” Matteus 5 bly die grootste inspirasie vir Hanen, waar Jesus praat oor Christene wat die sout van die aarde moet wees. Sy was die enigste Christen in haar universiteitsklas en het probeer om die liefde van Jesus deur haar dade te betoon.

Aan die einde van die jaar toe die klas beskrywende name vir mekaar moes gee, het Hanen die naam “sout van die klas” gekry. “Ek het onthou wat Jesus gesê het oor sout in die Bybel en ek was bly dat my klasmaats daardie naam vir my gegee het.”

Dis duidelik sigbaar in Sedar, Hanen en baie ander vervolgde gelowiges se lewens dat die eggo van hulle lewensverhale ʼn eggo van Jesus sal wees. Sekerlik is dit die wonderlikste eggo bekend aan die mens; ʼn eggo van ʼn lewe waardig van die roeping wat ons ontvang het, ʼn lewe wat oor die aarde uitroep dat “Jesus lewe en ek moet Sy naam bekendmaak”.

Ons moet verseker dat hierdie eggo van die Groot Opdrag aanhou vir die komende generasies deur ons aksies en bydraes om ons geloofsfamilie te versterk sodat hulle kan voortgaan om dit tot by die uithoeke van die aarde te versprei.

Geopende Deure vervul die roeping van die Groot Opdrag deur vervolgde gelowiges wat in moeilike en vyandige plekke woon, te help op enige maniere ons kan om hulle eggo’s van Jesus in hul families en gemeenskappe te versterk.

Nou is ons vraag aan jou: Wie sal die eggo hoor van jou dienende en vrygewige hart vir Jesus? Laat jou eggo jou doel op hierdie aarde oorleef en wees deel van die wonderlikste nalatenskap wat jy ooit aan enigiemand kan gee – Jesus! Klik hier om vandag ʼn geloofsheld te wees.

*Name verander vir sekuriteitsredes.

 

Back To Top
Soek