Skip to content

Die gebed van God se Smokkelaar…

Wanneer was die laaste keer wat jy gebid het vir die onmoontlike? En was jou hart in lyn met God se doel of jou eie doel en begeertes? Soveel keer wil ons hê dat dinge in ons lewens, in ons land of in die lewens van ons geliefdes moet gebeur, sonder om te dink of dit deel van God se wil is of nie. Die maand van Oktober is ‘n maand van gebed by Geopende Deure en ons word herinner aan; die getuienisse van ontelbare gebede wat verhoor is, die gevaarlike sendings wat die Here ons gehelp het om deur te maak, en hoe die Here voortgaan om deure oop te breek volgens Sy wil, vir ons vervolgde familie regoor die wêreld.

Ons word ook herinner aan die verhaal van Broer Andrew (die stigter van Geopende Deure) uit sy boek, God se Smokkelaar, en hoe gebede verhoor is om ‘n onmoontlike weg na lande agter die Ystergordyn oop te maak… Op daardie stadium het Christene in Kommunistiese lande min tot geen geloofsvryheid gehad nie en dit was byna onmoontlik om Bybels of Christelike literatuur te bekom. Maar Broer Andrew, of te wel, God se Smokkelaar het geweet, met die Here is daar altyd ʼn weg…

“Hier het ek gesit met ʼn motor en bagasie wat letterlik gebult het van traktaatjies, Bybels en gedeeltes van Bybels. Hoe moes ek hulle by die grenswag verby kry? En daar het ek die eerste van vele kere die “Gebed van God se smokkelaar” gebid:

“Here, in my bagasie het ek Skrifte wat ek na U kinders anderkant hierdie grens wil neem. Toe U op aarde was, het U blinde oë siende gemaak. Ek bid U, maak nou siende oë blind. Moenie dat die wagte daardie dinge sien wat U nie wil hê hulle moet sien nie.'”

En deur hierdie gebed kon Broer Andrew derduisende Christene met die Woord bereik…

Hierdie herinner ons net weer dat ons moet begin om God se wil tot stand te bring sodat Hy die onmoontlike moontlik kan maak! Broer Andrew het gebid om die wagte blind te maak vir die Bybels en die Christelike materiaal wat hy vir die Christene in smokkel en die Here het sy gebed verhoor. Daag ons gebede die onmoontlike uit? Maak jou gebede blinde oë sien en siende oë, blind?

Daar is vandag steeds duisende Bybel-smokkelaars en dissipels van Geopende Deure, net soos Broer Andrew, wat hul lewens waag vir God se wil en doel. Hulle het ons gebede en ondersteuning nodig! Word vandag ʼn vennoot van die vervolgde Kerk en staan saam met Geopende Deure om te verseker dat alhoewel ons broers en susters vervolg word, hulle nooit alleen is nie…

Back To Top
Soek