Skip to content

Bid vir Christene tydens die koronavirus-epidemie

Die impak van die koronavirus (Covid-19) word in al meer lande regoor die wêreld gevoel. Dit is nou net meer as drie weke sedert ons eie land, Suid-Afrika, in die virus se greep beland het.

Dit is egter gedurende dié tyd van kardinale belang dat ons as die Liggaam van Christus saamspan in gebed – nie net vir mekaar nie, maar ook vir ons wêreld.

Die situasie vir vervolgde Christene sal waarskynlik vererger, en sal die lewe selfs meer gekompliseerd raak tydens die epidemie.

In plekke soos Noord-Korea, waar die virus waarskynlik reeds toegeslaan het, hoewel die regering nog geen gevalle aangemeld het nie, word Christene se bestaande moeilike situasie verder vererger onder sulke omstandighede. “Die stelsel vir gesondheidsorg in die land funksioneer amper glad nie,” sê ’n leier van Geopende Deure se Noord-Koreaanse span, wat in China met Noord-Koreaanse vlugtelinge werk. Die woordvoerder sê: “Die meeste mense gaan deur tydperke van ernstige wanvoeding. ’n Virus-epidemie sal vir hulle rampspoedig wees.”

Sluit by ons aan in gebed:

  • Bid dat God vir ons vervolgde broers en susters sal sorg, wat selfs meer sal lei tydens hierdie epidemie.
  • Bid vir diegene in talle lande wat ernstige nood in die gesig staar, maar minder hulpbronne het.
  • Bid dat ons as die Liggaam van Christus nie sal toegee aan die huidige vrees en paniek nie, maar gedurende hierdie tyd ’n lig sal wees wat helder skyn vir Christus.

Ons by Geopende Deure bid ook voortdurend dat God by jou en jou familie sal wees, en alles sal voorsien wat jy nodig het vir welstand en vrede in hierdie tyd.

Dankie dat jy ’n vennoot in gebed is!

 

Jy kan gedurende die nasionale isolasietydperk, ons vervolgde broers en susters met woorde van bemoediging daaraan herinner dat hulle nie alleen is nie >>

 

Back To Top
Soek