
Die Bybel verander steeds lewens
Romi van Maleisië wys dat God se Woord noodsaaklik is om vervolgde Christene toe te rus om sterk te staan vir Jesus, ongeag watter uitdagings hulle ook al in die gesig staar.
‘n Klein dorpie in die bergagtige meerstreek van Wes-Maleisië is Romi en sy gesin se tuiste. Hulle behoort aan die Semelai-stam – deel van die Orang Asli, die oorspronklike inheemse inwoners van die Maleisiese skiereiland. “Ons is die oorspronklike mense van hierdie land,” sê Romi. “Ons woon al 600 jaar in Maleisië. Ons boer op ons eie grond, en so leef ons.”
Romi het homself as ʼn Christen beskou toe hy grootgeword het. Hy het nie regtig iets van die Christelike geloof geweet nie, behalwe die feit dat hy Kersfees gevier het. Hy het egter niks daarvan gedink om hom met die bygelowige en tradisionele praktyke van sy gemeenskap te bemoei nie. Hy het in heksery geglo en geweet hy kon die plaaslike heksdokter vir genesing vra.
Hoekom?
Omdat hy die Bybel nie verstaan het nie.
Om Jesus te ken . . . maar nie as ʼn Verlosser nie
Romi en sy gesin woon in ʼn buitelug-huis op pale – ʼn konstruksie wat verligting bied van die onophoudelike hitte en humiditeit in hierdie deel van Maleisië. Hoenders en honde loop op die terrein rond, en kinders jaag mekaar in en uit die vrugtebome. Sy lewe is verweef met die natuurlike wêreld, maar sy geestelike landskap was jare lank ʼn verwarrende mengsel van geërfde gebruike en ʼn vae gevoel van ʼn geloof wat hy nie verstaan het nie.
Romi, wat ná sy pa se dood deur ʼn Christen-ma grootgemaak is, het met die naam “Jesus” grootgeword, maar het Jesus en die waarheid van die Evangelie nie werklik geken nie.
Sy ma, wat waarskynlik deur ʼn sendeling beïnvloed is, het sonder behoorlike dissipelskap probeer om die Christelike geloof so goed as moontlik te volg. Romi het haar toewyding gesien, maar gesukkel om die geloof self te begryp. Hy het in die geheim probeer om sy ma se Indonesiese Bybel te lees – die enigste weergawe wat beskikbaar was – maar die taal was moeilik, en hy het nooit iemand gehad om die leringe aan hom te verduidelik nie. “Ons het die naam ‘Jesus’ geken, maar het Hom nooit as ons Verlosser beskou nie,” onthou hy.
Wanneer sy onderwyser na “Isa” (die Arabiese naam vir Jesus) verwys het, het hy hom as ʼn profeet voorgestel en nie as die Verlosser nie. Aangesien afhanklikheid van tradisionele genesers boonop nie as teenstrydig met die Christendom beskou is nie, was dit maklik vir Romi om sy ma se Christelike geloof te ignoreer en enigiets te glo wat sy gemeenskap as die waarheid met hom gedeel het.
Net soos in die gelykenis van die saaier in Matteus 13, het die Woord op rotsagtige grond geval. Hoewel hy dit met vreugde aanvaar het, het hy vinnig afgedwaal omdat sy wortels nie diep genoeg was om sterk te staan wanneer moeilikheid kom nie.
Hy het sy lewe só geleef tot hy 34 jaar oud was, toe hy uiteindelik die waarheid oor Jesus gehoor het – ʼn Naam wat hy geken het, maar ʼn Persoon wat hy nooit werklik ontmoet het nie.
ʼn Lewensveranderende ontmoeting
In 2000 het ʼn Chinese evangelis na hul dorpie gekom. Die evangelis het verduidelik wie Jesus is, wat dit beteken om Hom te volg en hoe om die Bybel te lees. “Toe het ek die Here Jesus Christus werklik ontmoet. Daardie ervaring het my lewe heeltemal verander – om uit die ou lewe te stap en die nuwe een te betree,” sê Romi.
Die evangelis het Bybels saamgebring – die eerste keer dat Romi en die ander gelowiges in die dorpie toegang tot God se Woord gehad het in ʼn taal wat hulle ten volle kon verstaan. Hy het ook ʼn pastoor na die dorpie laat verhuis, wat hulle dissipelskap geleer het om God se Woord te verstaan, te lees en te deel. Dit was toe dat die Skrifte werklik in Romi se hart begin wortelskiet het, en sy lewe het verander.
Gemeenskapsdruk en gesinsuitdagings
Romi se reis was egter nie sonder uitdagings nie. Om in ʼn gemeenskap te bly wat diep in tradisies gewortel is, beteken dat hy sommige van sy vriende verloor het en deur ander mense verstoot is.
Hy ervaar gedurig kulturele druk. Verdeeldheid het in sy eie familie ontstaan. Sy kinders het voortgegaan om genesing by tradisionele genesers te soek, en die verlies van sy broer het tot ʼn botsing van oortuigings gelei – ʼn begeerte in die familie om tradisionele reinigingsrituele uit te voer, wat Romi geweet het met sy Christelike oortuigings bots.
Romi het die voorval gebruik as ’n manier om die Evangelie te deel. “Ek het vir hulle gesê dat ons as Christene nie aan hierdie rituele hoef deel te neem nie, want ons glo dat al ons sondes vergewe is deur die bloed van Jesus Christus wat aan die kruis gestort is, en daarom het die donker magte geen houvas op ons nie,” sê hy.
Romi weet ook dat daar altyd druk is om op te hou om Jesus te volg. Hy weet dat verwerping van die Christendom beter aansien in die gemeenskap kan bring, asook vir hom toegang tot regeringsvoordele en moontlik selfs beter geleenthede vir sy kinders kan gee. Hy staan egter sterk en vertrou op die waarheid van die Evangelie.
“My hoop is dat ons aan Jesus sal bly vashou, ongeag die weerstand wat ons as Christene mag ondervind,” sê hy. “Ongeag die beproewings of omkoopgeld wat ons kan ontvang, glo ons in Jesus, wat lewend is en aanbidding werd is. Ons hoef nie ons godsdiens te verander nie. Ons bly getrou aan Jesus.”
Groei in geloof
Romi en sy gemeenskap kan danksy die getroue ondersteuning van Geopende Deure se vennote sterk in hul geloof staan. Bybels, dissipelskap-materiaal en gereelde studiegroepe het lewenslyne geword wat hulle in staat stel om samesyn te hê, hul ervarings te deel en hul kennis van die Skrif te verdiep.
Romi se dogter, Wafa, het deur dié programme tot geloof in Jesus gekom en nie meer op tradisionele praktyke vertrou nie. “Nou weet ek Jesus is God en dat ek tot Hom kan bid vir genesing. Jesus is die enigste een op wie ek kan staatmaak,” sê sy. Wafa dien nou in die jeugbediening by die dorpskerk.
Vir Romi begin alles by die Bybel en kennis van God se Woord. “Die Bybel is vir my uiters belangrik,” sê hy. “Die Bybel leer ons alles. In ons vrae gesels ons met God, en dit is baie belangrik. Wanneer die Bybel sê ons kan iets nie doen nie, is dit asof God dit direk vir ons sê. Dis wat belangrik is.”
Broosheid van geloof en belangrikheid van dissipelskap
Romi weet hoe broos geloof in Jesus in hierdie deel van Maleisië kan wees. Hy het gesien hoe maklik dit kan wees om terug te keer na tradisionele praktyke wat strydig is met God se Woord.
Christene in Maleisië en regoor die wêreld leef onder voortdurende druk om hul geloof in Jesus te verwerp. Sonder toegang tot Bybels en dissipelskap, sal baie gelowiges wat in só ʼn omgewing leef – waar hulle weens hul geloof vervolging en diskriminasie ervaar – hul geloof in Christus prysgee. Daarom werk Geopende Deure se plaaslike vennote om te verseker dat elke vervolgde Christen toegang tot God se Woord het, saam met die gereedskap om dit te verstaan.
“Ek hoop dat gelowiges sal aanhou om in Jesus Christus te glo sodat hulle geen ander gode as Jesus sal dien nie,” sê Romi. “Hulle sal ondanks die uitdagings aan Jesus bly vashou.”
Geopende Deure werk deur vennote regoor die wêreld om Bybels en dissipelskap-hulpbronne aan vervolgde Christene te verskaf wat druk en vervolging weens hul geloof ervaar. ʼn Geskenk van R180 kan vandag help om God se Woord en die gereedskap om dit te verstaan, aan ʼn vervolgde gelowige te voorsien.

