Roep uit vir geregtigheid
Welkom by ons Tyd van Weeklaag-oordenkingsreis. Ons besin in hierdie oordenkingsreeks oor sommige van die gewelddadigste lande in sub-Sahara Afrika vir Christene, en ons roep uit na God vir geregtigheid, genesing en hoop vir ons familie in Christus in dié lande.
Hierdie maand se leesstof
“Hoe lank nog, Here? Gaan U my vir altyd vergeet?
Hoe lank nog gaan U u gesig vir my verberg?
Hoe lank nog moet ek kwellinge in my binneste dra,
elke dag kommer in my hart?
Hoe lank nog gaan my vyand die oorhand oor my hê?”
Psalm 13:2-3
Oordenking
Nigerië is die #1 gewelddadigste land vir Christene.
Vandag weeklaag ons – ons roep uit na God en noem die pyn van ons broers en susters in Nigerië.
Laat ons weeklaag deur na God uit te roep en die pyn te noem wat ons familie in Nigerië verduur.
O God van geregtigheid en genade, U sien die bloeiende harte van u kinders in Nigerië. U sien hulle pyn en trauma. Ons kom na U toe, swaarmoedig van hartseer, en pleit namens hulle.
Hulle pyn is diep.
Stel jou dit voor . . .
ʼn Man of seun word doodgemaak, wat ʼn vrou of ma met skielike, verpletterende hartseer laat en kwesbaar maak vir aanvalle.
ʼn Ma of dogter word ontvoer, en haar man of pa se gedagtes word dag en nag gepynig, terwyl hulle die gruwels voorstel wat sy kan verduur.
In Christelike gemeenskappe volg geweld dikwels ʼn wrede patroon – mans en seuns word doodgemaak, vroue en meisies word ontvoer en mishandel. Oorlewendes vlug uit hulle huise en lande met niks anders as trauma en verlies nie.
Die Psalmis se uitroep weerspieël hierdie hartseer. Maar soos hy, wend ons ons tot hoop: “Maar ek – op u troue liefde vertrou ek; my hart wil juig oor u verlossing.”
Reflekteer
Waar sien jy onreg en voel jy hulpeloos?
Hoe kan weeklaag jou eie gebedslewe verdiep en medelye kweek vir diegene in Nigerië en ander wat vervolging in die gesig staar?
Reageer
- Weeklaag oor die verlies van lewens en trauma wat deur godsdienstige geweld in Nigerië veroorsaak word.
- Bid vir die genesing van oorlewendes en die herstel van geaffekteerde gemeenskappe.
- Tree in vir geregtigheid, vrede en veiligheid.
- Vra God om die Kerk in Nigerië te versterk en Sy mense wêreldwyd wakker te maak om te huil saam met diegene wat huil