
Roep uit vir genesing
Ons weeklaag dié maand oor die duisternis wat die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) oorskadu en klou vas aan die hoop dat God dit steeds sien en herstel.
Dié maand se leesstof
“Uit my oë vloei strome water
oor die ineenstorting
van die dogter van my volk.
Sonder onderbreking,
sonder einde, bly my trane loop,
totdat die Here uit die hemel
neerkyk en dit sien.
Hoe pynlik om al die dogters
van my stad so te sien!”
Klaagliedere 3:48-51
Oordenking
Ons weeklaag oor die geweld en verliese wat gelowiges in die DRK voortdurend ervaar.
Laat ons ons stemme verhef tot God, wat elke traan sien wat deur ons familie in die DRK gestort word en elke wond wat aan hulle toegedien word.
O God, ons Redder en Geneser, U sien die letsels van jare se geweld wat deur ons broers en susters in die DRK gedra word. Gee aan hulle verligting van hul lyding.
Die derde gewelddadigste land vir Christene in sub-Sahara Afrika ervaar al vir meer as 50 jaar konflik tussen talle gewapende rebellegroepe. Geweld, insluitende ontvoerings, seksuele geweld, aanhouding en moorde op joernaliste, duur straffeloos voort.
Slegs in die afgelope paar maande het mense talle voorvalle van geweld verduur aan die hand van die Geallieerde Demokratiese Magte (ADF), met die een slagting ná die ander.
“Mag God tot ons redding kom, want ons is keelvol vir hierdie moorde in die Beni-gebied,” weeklaag pastoor Paluku.
Pastoor Paluku se geweeklaag is ʼn uitroep van ons familie in die DRK. Maar net soos Jeremia, weet beide ons en hulle dat die Here die onregte sien wat aan hulle gedoen word. Daarom herhaal ons wat Jeremia gesê het: “Dit is deur die troue liefde van die Here dat ons nie omgekom het nie, ja, sy ontferming ken geen einde nie . . . My erfdeel is die Here, sê ek; daarom hoop ek op Hom.”
Reflekteer
Waar sien jy diep wonde wat genesing nodig het in jou eie lewe en die lewens van ons vervolgde familie?
Hoe kan weeklaag jou empatie verdiep en jou aanspoor om op te tree namens diegene wat vervolging in die gesig staar?
Reageer
- Weeklaag oor die voortdurende geweld in die DRK en die verwoestende impak daarvan op ons geloofsfamilie.
- Bid vir God se vertroosting aan diegene wat geliefdes verloor het.
- Bid vir genesing en herstel vir die ontworteldes en treurendes.
- Bid vir krag vir die Kerk in die DRK om standvastig te bly te midde van hierdie geteikende aanvalle.
*Let wel: Geweld word in die Wêreldwaarnemingslys (WWL)-metodologie gedefinieer as die ontneming van fisiese vryheid, liggaamlike leed aan Christene of skade aan hul eiendom. Dit sluit ernstige dreigemente (geestelike mishandeling) in.
