Skip to content

ʼn Nalatenskap van geloof in Viëtnam

Thong* is ʼn saggeaarde Viëtnamese pastoor van die Bahnar-stam in Viëtnam se Sentrale Hooglande. Toe hy ʼn gelowige geword het, het hy geweet hy moes God en sy gemeenskap dien. Meer as 40 jaar ná sy bekering lei pastoor Thong nou ʼn kerk met 50 lede en hou hy toesig oor ses ander kerkgroepe, wat altesaam meer as 800 lede het. Pastoor Thong versterk die Kerk deur gesinne vir Christus te dissipel met behulp van ʼn dissipelskapprogram vir gesinne wat Geopende Deure deur sy plaaslike vennote ondersteun.

“Hulle het my aangesê om kommunisme te studeer,” onthou Thong, sy stem ferm, asof die gewig van daardie oomblik hom nooit heeltemal verlaat het nie.

“Maar ek het Christus gekies.”

Dit was 1980 in ʼn afgeleë Bahnar-dorpie in Viëtnam se Sentrale Hooglande, toe die greep van kommunisme op sy hoogtepunt in dié land was. Openbare uitdrukkings van die Christelike geloof was in daardie tyd onwelkom en as gevaarlik beskou.

Thong, toe ʼn jong man wat pas die Christelike geloof aangeneem het, is deur die plaaslike owerhede aangesê om ʼn dokument te onderteken wat sy geloof verwerp. Hy deel: “Ek het geweier en is gevolglik vir vyf dae sonder kos in die tronk gegooi.”

Hy vertel verder: “Toe ek vir die tweede keer gevang is, het ek die dokument onderteken, maar steeds in die geheim kerk toe gegaan.” En toe hy vir die derde keer weer betrap is, het die verandering in godsdiensbeleid op een of ander manier gekeer dat hy tronk toe gaan. “Ek het net ʼn boete betaal en is selfs toegelaat om in Jesus te glo, maar ek is verbied om te evangeliseer.”

Ondanks die verbod om die Evangelie te deel, het Thong voortgegaan om sy lewe aan Jesus te wy, vol vertroue en gehoorsaam waar Hy hom ook al gelei het.

Van vervolging tot ʼn doelwit
Vandag is Thong (65) nie meer ʼn geheime gelowige nie. Hy is ʼn pastoor en ʼn leier van ses kerkgroepe met byna 800 lede regoor sy provinsie. Die koste om Christus te volg het egter nie verdwyn nie – dit het bloot van vorm verander.

“Voorheen het hulle geweld gebruik,” verduidelik hy. “Nou ontneem hulle jou van voordele. As jy Christus openlik volg, verloor jy toegang tot maatskaplike staatsvoordele soos gratis skoolonderrig vir jou kinders. Destyds het ons niks gehad nie, so ons het niks gehad om te verloor nie. Nou is mense bang om die min wat hulle het, te verloor.”

Thong word egter nie maklik beïnvloed nie. Wat kommunisme meer as 40 jaar gelede nie kon vernietig nie, kan die huidige druk en uitdagings steeds nie stilmaak nie. Trouens, sy vasberadenheid het net verdiep en dit beïnvloed die generasies ná hom.

In 2018 het Thong en sy seun, Vinh*, opleiding bygewoon vir ʼn dissipelskapprogram vir gesinne wat Geopende Deure deur sy plaaslike vennote ondersteun.

Thong het gesien hoe die opleiding sy bediening en ook sy gesin gehelp het. “Ek het my vyf kinders, van wie vier nou hul eie gesinne het, bymekaar laat kom vir maandelikse Bybelstudie, doelbewuste gebed en samesyn.” Hoewel hulle in verskillende dorpe woon, het die afstand hulle nie gekeer nie. “Dit was iets nuuts vir ons,” sê hy. “Ons word weer een gesin in Christus.”

En Thong glo dat die impak wat hy in sy gesin sien, nie in sy huishouding moet stop nie. “Ek was aanvanklik net ʼn deelnemer, maar het die volgende keer ook ander mense opgelei.”

Die program is daarop gemik om Christelike gesinne van landelike en stamverwante kerke in Viëtnam te versterk. Dit sluit preke, Sondagskoolonderrig, gesinsoordenkings en ʼn program vir ʼn vier dae lange gesinskamp in. Die ideaal is dat ʼn plaaslike kerk vir drie tot vier maande daardeur werk, met al die kerklike aktiwiteite wat op “Christen-familie” as tema fokus.

“Ek het geleer dat wanneer Christus die middelpunt van ons lewens en gesinne is, ander God deur ons kan sien. ’n Sterk, Christus-gesentreerde gesin is op nederigheid, onselfsugtigheid en liefde gebou – net soos Jesus ons geleer het. Sonder Hom is ware vrede moeilik om te vind, want almal wil lei. Maar saam met Hom leer ons om te dien,” deel Thong.

Thong het deur die program besef dat sterk kerke met sterk gesinne begin. Hy het geleer dat verandering versprei wanneer Christus werklik die middelpunt van die huis is – van ouers na kinders, van gelowiges na gemeenskappe.

Sedert die opleiding het Thong gehelp om die program en dissipelskapsessies by verskeie kerke in drie provinsies te lei. Gesinne wat eens in onenigheid geleef het, het begin verander – nie dadelik nie, maar geleidelik.

“Dit het begin met ʼn verandering in hul denkwyse, toe was daar veranderings in hul gedrag. Voorheen was daar geen respek tussen gesinslede nie,” sê Thong. “Harte het egter stadig maar seker versag. Kinders het kerk toe begin gaan en by die bedienings betrokke geraak. Paartjies het mekaar met takies gehelp. Mense het hul geloof tuis begin uitleef, nie net in die kerk nie.”

Vinh: ʼn Seun, ʼn vennoot in die bediening
Vinh, Thong se 39-jarige seun, het by hierdie reis aangesluit. Vinh, ʼn pa van twee en ʼn kleingroepleier, sê: “Die program het ons gesin gehelp om mekaar beter te verstaan – nie net emosioneel nie, maar ook geestelik. Ons het geleer hoe om nie net in ons huise te dien nie, maar ook in ons kerk en gemeenskap.”

Hy het dit ook in die gesinne by sy kerk gesien. Wat eers net ʼn gewoonte was – om Sondae kerk toe te gaan – het ʼn leefstyl geword. Nou dra gesinne nie uit verpligting by tot kerkgeleenthede nie, maar met vreugde en eienaarskap. “Sommige gee groente, ander hul tyd. Maar almal gee iets,” sê Vinh. “Dit gaan nie meer net oor ontvang nie, maar ook oor gee.”

Hy voeg by: “Die program is geïntegreer in ons lede se dissipelskap. Nadat die gesinne dit voltooi het, het ek gesien dat hulle God se Woord dieper verstaan, veral in die onderrig van hul kinders. Hulle is nou meer toegewy daaraan om by kerklike aktiwiteite aan te sluit as diegene wat nie aan die program deelgeneem het nie. Jy sien dit nie net deur hul woorde nie, maar ook deur hul dade.”

Vinh beklemtoon ook die gesinskamp, wat ʼn hoogtepunt-aktiwiteit is nadat die gesinne by die kerk die program se leerplan voltooi het. “Ek het regtig van die gesinskamp gehou – dit het ons as gesinne nader aan mekaar gebring. Dit het ons tyd gegee om met mekaar te konnekteer, te deel en mekaar werklik te verstaan. Dit het nie net oor prettige aktiwiteite gegaan nie, maar dit het ons band verdiep en ons geloof as gesinne versterk.”

Die volgende generasie vir Christus
Pastoor Thong en sy familie behoort aan die Bahnar-groep, ʼn etniese minderheidsgroep in Viëtnam. Die Bahnar-groep staan histories bekend as “mense in die berg”. Hulle is tradisioneel animiste en glo in talle “yangs” – gode of geeste wat met die natuur geassosieer word, insluitend berge, rotse, die aarde en woude. Hulle glo dat die godheidspaar, Bok Kei Dei en Ya Kuh Keh, die aarde geskep het en verantwoordelik is vir die versorging van hul skeppings.

Diegene wat hul rûe op dié geloof draai, ervaar vervolging deur die plaaslike owerhede of hul gemeenskappe.

Ondanks hierdie uitdagings sien Thong die volgende generasie in sy gemeenskap en in sy stam volhard in hul geloof in Jesus, danksy julle ondersteuning.

“Ek dank God vir hierdie geleentheid. Ek dank God vir julle ondersteuning aan ons. Julle help om ons kerk en gesinne te versterk deur doelbewus die ouers en kinders toe te rus deur die dissipelskapprogram vir gesinne. Dankie dat julle deel is van ons geestelike reis,” deel Thong.

Thong beklemtoon die belangrikheid van ouers se rol in die koestering en leiding van kinders en jongmense op ʼn Christelike wyse. Hy sê: “As ouers hul rol ernstig opneem, sal die kinders volg. As ons hulle nie nou leer nie, sal die wêreld. As die ouers besig is, sal die kinders nie die moeite doen om kerk toe te gaan nie. Maar as die ouers doelbewus lei, volg die kinders ook. Ouers se rol is baie belangrik in hul kinders se geestelike groei.”

Om die gesinne in sy kerk verder toe te rus, wil Thong hê dat vier dinge verwesenlik word: “Ek wil geletterdheid onderrig sodat gelowiges die Bybel self kan lees. Ek wil gesinne oplei om die Evangelie met vrymoedigheid en moedigheid te deel. Ek wil ten minste een lid in elke huishouding oplei om die dissipelskapprogram vir gesinne te fasiliteer en voort te sit. En laastens wil ek Sondagskoolklasse vir kinders begin om hul geestelike fondament op te bou.”

En dit is ook sy uitnodiging aan jou om saam met hom en sy kerk te bid. Hy nooi jou uit om ʼn aanmoediger, ondersteuner en getuie te wees van hoe God die gesinne en volgende generasie in Viëtnam sal aanhou versterk.

Bid asseblief vir

*Name is weens veiligheidsredes verander.

Back To Top
No results found...