
‘n Ketting van hoop
Ons het julle, ons vennote, gevra om met ons te deel hoe die Bybel jul lewens verander het. Baie van julle het jul verhale aan ons gestuur.
Dit was só bemoedigend om te lees oor hoe God se Woord jul lewens verander het, julle deur baie moeilike tye gehelp het en julle ook uitgedaag het.
Een van julle het gedeel hoe jy as ʼn jong meisie só graag jou eie Bybel wou gehad het, al het jy in ʼn ateïstiese gesin grootgeword waar jou ouers by okkultiese bedrywighede betrokke was. Dit was wonderlik om te hoor dat jou Bybel vir jou so baie beteken.
Jy het die volgende met ons meer gedeel:
“Ek wou só graag my eie Bybel hê. Ek kan nie die begeerte om een te hê verduidelik nie. Ek het uiteindelik my eerste Bybel by ʼn Metodistekerk gekry waarheen ʼn vriend my geneem het, terwyl my ouers besig was om te herstel ná ʼn partytjie die vorige aand. Dit was ʼn ‘Lewende Bybel’ met prentjies en kaarte. Ek was mal daaroor!
“Ek het dit vandag nog – meer as 50 jaar later. Ek het nou ʼn verskeidenheid Bybels wat ek in plastieksakke bêre omdat hulle uitmekaar geval het. Terloops, my ouers het intussen tot geloof gekom en my pa het ʼn fantastiese pastoor geword met deeglike kennis en begrip van die Bybel, iets wat ek ook begeer.
“Die vraag is egter, wat beteken die Bybel nou vir my? Alles! Die lewe!”
Hierdie verhaal is ʼn wonderlike herinnering daaraan dat die Bybel ʼn geskenk met ewigheidswaarde is, ʼn skat vir die persoon wat dit ontvang. Een wat jy van geslag tot geslag kan oordra.
Die meeste van ons onthou nie net wanneer ons ons eerste Bybels gekry het nie, maar ook hóé ons dit gekry het. In ons vennoot se geval het sy dit by ʼn kerk gekry. Sommige van ons het ons eerste Bybels by ons ouers of ʼn vriend gekry, of vir jouself ʼn Bybel gekoop.
Ons vervolgde familie het ook hul eie verhale oor hoe hulle hul eerste Bybels ontvang het. Sommige het dit deur hul kerk ontvang, sommige van hul ouers af en sommige het vir hulself ʼn Bybel gekoop. Daar is egter ook ander verhale waarin julle ʼn rol speel deur te gee en te bid sodat mense soos Daniel Bybels kan versprei en hierdie wonderlike geskenk aan ander kan gee.
Daniel* lê regdeur die nag wawyd wakker in sy bed.
Sy vrou sê vir hom hy moenie bekommerd wees nie – dat hy sy bekommernisse aan God moet oorgee. Sy het dit al ʼn duisend kere vir hom gesê, en sy sal dit nog ʼn duisend kere herhaal: Hy weet, hy weet!
Hy kan egter nie die gedagtes keer wat aanhou rondmaal in sy kop nie. Hy probeer aanhoudend aan nuwe maniere dink oor hoe hy die Woord van God by vervolgde gelowiges kan kry.
Dit is hoe Daniel se lewe is, waar hy al vir 25 jaar lank God se Woord by geslote lande insmokkel.
Hy het al talle noue ontkomings gehad. Hy sê egter: “God het my nog elke keer bewaar. Ja, elke enkele keer.”
Hy het al baie wonderwerke gesien, maar niks kom daarby om te sien hoe Moslems Jesus as hul Verlosser aanvaar nie. Alhoewel dit mooi is om te sien, is Daniel, net soos ons almal, ʼn gebroke mens en is dit nie altyd vir hom so maklik om sy roeping uit te leef nie . . .
“My lewe is baie gekompliseerd,” sê hy. “Somtyds wil ek met my bediening ophou, iewers onder ʼn vyeboom gaan sit en in vrede oud word. Ek sou al lankal opgehou het as ek nie oortuig was dat dit God se wil vir my lewe is nie. Hy het dit al talle kere bevestig. God is persoonlik betrokke by my bediening – deur my kreatiewe idees oor hoe om die Bybel by mense te kry, deur mense wat tot geloof kom en deurdat Hy vir al my foute vergoed.”
Gelukkig is Daniel nie alleen hierin nie. Dit is ʼn spanpoging om Bybels uit te deel aan almal wat dit nodig het.
“Dit verg spanwerk om Bybels en ander Christelike materiaal uit te deel,” verduidelik hy. “Daar is baie broers en susters wat skakels in ʼn soms baie lang ketting vorm. Wanneer ek met ʼn kreatiewe idee na vore kom om Bybels uit te deel, kan ek dit net uitvoer wanneer ander met my plan saamstem. Soms sien hulle nie wat ek sien nie of dink hulle die risiko is groter as wat ek dink dit is. Ek kan hulle egter nooit dwing nie. Dit is hulle lewens. Ek moet na my gesin omsien en hulle moet na hul gesinne omsien. Ons almal neem risiko’s, maar ons het ook almal die vryheid om te kies hoe ver ons bereid is om te gaan.”
Dit is vir ons as gelowiges noodsaaklik om ʼn Bybel te besit. Ons het elke dag die Skrif nodig om ons te help om nie mislei te word, vervolg te word of geestelik verslae te voel nie. Dit is wat die Bybel-toegangslys wat onlangs bekendgestel is, vir ons wys. Daar is ʼn direkte verband tussen vervolging en om nie jou eie Bybel te hê nie.
Dit is waarom dit so belangrik is dat ons help om Bybels aan vervolgde gelowiges te gee. Al is jy nie self die persoon wat die Bybels in gevaarlike gebiede versprei nie, kan jy deel wees van die span. Baie van ons sal nooit vir Daniel ontmoet of die gesigte sien van die gelowiges wat die Bybels ontvang wat hy versprei nie, maar ons gebede en ondersteuning is net so noodsaaklik.
Jou gebede kan Daniel en ander soos hy onderhou en bewaar in hul gevaarlike reise om Bybels by ons vervolgde familie te kry. Jou ondersteuning verseker dat hierdie lewensgewende Brood diegene bereik wat dit die nodigste het – die ma’s, kinders en families wat in afwagting op hierdie lewensveranderende geskenk wag. Jy is daarom deel van die ketting, ʼn onsigbare hand wat op hierdie manier alles verander.
Jy is dalk nie besig om grense oor te steek of jou lewe te waag nie, maar jou gebede en donasies maak ander se bedienings, soos Daniel sʼn, moontlik.
Vra jouself dus vandag af hoe ver jy bereid is om te gaan
Sluit by die ketting van hoop aan.
Dra by tot die verspreiding van Bybels en om mense toe te rus om die Bybel beter te verstaan sodat families in hul geloof kan groei. Jou donasie vandag word ʼn geskenk met ewigheidswaarde.
Skenk vandag ʼn Bybel. Verander iemand se lewe.
