Mediaverklaring: Dodelike aanvalle op Christene in Mosambiek
Die bedieningsorganisasie Geopende Deure Afrika, wat vervolgde Christene versterk en ondersteun, is geskok oor die nuutste dodelike reeks aanvalle op Christene in die dorp Napala in Mosambiek. Altesaam 20 Christene is doodgemaak, sowat 2 000 ontwortel, 1 300 huise vernietig en twee kerke afgebrand tydens die aanvalle op dié oorwegend Christelike dorp.
Die groep wat algemeen bekend is as al-Shabaab (Ahlu Sunnah wa Jama’ah, of ASWJ) het op 9-12 Oktober ʼn reeks aanvalle op Napala geloods. Napala, ʼn dorp in die Chiúre-distrik van die Cabo Delgado-provinsie in noordelike Mosambiek, is ernstig beskadig deur die ASWJ-aanvallers.
Onttrekking van militêre hulp
Volgens ʼn plaaslike pastoor (naam weens veiligheidsredes weerhou), het die situasie vinnig versleg toe die Mosambiekse Verdedigings- en Veiligheidsmagte hulle aan die gevegte teen die aanvallers onttrek het. “Alles het vererger toe die Verdedigings- en Veiligheidsmagte sonder sukses probeer ingryp het. Toe hulle gevlug het, het die situasie drasties versleg vir die inwoners,” het die pastoor aan Geopende Deure se plaaslike vennote vertel.
ʼn Anonieme gemeenskapsleier wat die gebeure bevestig het, deel: “Die militêre magte was alreeds in konfrontasie met terroriste. Nadat hulle onttrek het, het al-Shabaab met groter woede en aanvalle toegeslaan, wat veroorsaak het dat al die huise vernietig is.”
Nog ʼn pastoor, wie se naam weens veiligheidsredes nie gedeel kan word nie, sê: “Ons weeklaag oor die hartseer dood van vier bejaarde vroue wat in ʼn huis vasgebind en deur die aanvallers verbrand is.”
Ná die aanvalle het sommige dorpenaars probeer terugkeer om te kyk of hulle enigiets kon red – net om die dorp leeg te vind, met uitgebrande geboue en twee kerkgeboue in puin.
Vlaag van ontwortelings
Die Chiúre-distrik het die afgelope jaar onder verskeie gewelddadige aanvalle deurgeloop. Volgens ReliefWeb “het ʼn groot aantal mense ná ʼn reeks aanvalle deur nie-regeringsverwante gewapende groepe tussen 24 Julie en 3 Augustus hier aangekom, veral in die dorp Chiúre.
“Dit was die grootste vlaag van skielike ontwortelings in die provinsie sedert vroeg in 2024, toe ʼn beraamde 425 000 mense volgens die Internasionale Organisasie vir Migrasie intern ontwortel is.”
Skerp waarskuwing van ISIS
Met al-Shabaab se beweerde bande met die Islamitiese Staat (ISIS) in gedagte, is Geopende Deure ook bekommerd oor die volgende waarskuwing aan Christene in Afrika, wat vroeër vandeesmaand deur ISIS in ʼn weeklikse nuusbrief gepubliseer is: “Indien Christene in Afrika veilig wil wees en die siklus van moorde wil vryspring, moet hulle weet dat Islam aan hulle die ‘vryheid’ gee om tussen drie opsies te kies. Eerstens: Islam – word dus ons broers in iman (geloof), met dieselfde regte en pligte. Tweedens: Betaal die jizya (stembelasting) in vernedering en onderdanigheid – hierdeur word hul bloed bewaar en kan hulle veilig in hul dorpe woon. En derdens: Indien hulle beide Islam en die jizya weier – dan dood en uitsetting, wat hulle al vir jare ervaar en onder ly.”
“Die redaksionele plasing prys die groep se ‘jihad’, wat die teiken en doodmaak van Christene in Mosambiek en die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) behels, terwyl dit ISIS-aanhangers in Europa aanhits om ʼn sogenaamde goddelike vonnis teen Christene in hul eie streke ‘te voltrek’,” het MEMRI Jihad en Terrorisme Bedreigingsmonitor op 7 Oktober verslag gedoen.
Die Geopende Deure-bediening maak die volgende gevolgtrekkings uit dié ISIS-verklaring:
- Bevestiging van die bedoeling teen Christene in Afrika oor die algemeen, soos herhaaldelik verklaar word in Geopende Deure en die Afrika Evangeliese Alliansie se Arise Africa-veldtog, ʼn meerjarige veldtog teen die vervolging van Christene in sub-Sahara Afrika.
- Bevestiging van die godsdienstige agenda van die opstande in Mosambiek en die DRK spesifiek.
- Die behoefte vir voortdurende gebed vir Christene in die voorste linies in Afrika, wat ʼn brutale vlak van intimidasie, blatante geteiken en gepaardgaande ontwrigting in die gesig staar.
Volgens Lynette Leibach, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Afrika, is die gewelddadige aanslag en bedoeling om die Kerk in Afrika te verwoes duidelik. “Dit speel regoor sub-Sahara Afrika af. Verteenwoordigers van die vervolgde Kerk het in September 2023 ʼn verklaring in Lomé, Togo, onderteken waarin versoek word dat regerings, die Kerk in sub-Sahara Afrika, die wêreldwye Christelike Kerk en die internasionale gemeenskap aksie neem.
“Hoeveel voorvalle van vernietiging moet nog plaasvind voordat kennis hiervan geneem word? Geopende Deure doen namens ons geloofsfamilie in die voorste linies ʼn beroep op die Christelike Kerk in Suid-Afrika en die streek om die situasie ernstig op te neem, hulself dapper uit te spreek, en om ons geloofsfamilie behulpsaam te wees en by hulle te staan. Die Arise Afrika-veldtog, met die slagspreuk ‘Stop die geweld, begin die genesing’, is die ideale geleentheid om dit te doen,” sê sy.
Meer inligting
Vir meer inligting of om ʼn onderhoud te reël, kontak Elizabeth Botha, Geopende Deure se mediabeampte, by [email protected], (+27) 83 227 8164 of (+27) 11 888 9341.
Geopende Deure Afrika is deel van die Geopende Deure Internasionaal-bediening, wat vervolgde Christene in meer as 70 lande wêreldwyd ondersteun en bystaan met die lewering van Bybels en Christelike literatuur, besoeke aan vervolgde Christene, dissipelskap en opleiding, en die verkondiging en bevordering van bewustheid deur voorspraak.
Mediaverklaring uitgereik deur Elizabeth Botha
Mediabeampte: Geopende Deure Afrika
Tel: (+27) 83 227 8164 / (+27) 11 888 9341
E-pos: [email protected]