Skip to content

Mediaverklaring: Aanbidders afgemaai in moordtog onder Christene in DRK

Die bedieningsorganisasie Geopende Deure Suider-Afrika, wat vervolgde Christene versterk en ondersteun, is geskok deur die onlangse moorddadige aanval in Komanda, Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK). Die aanval in Komanda, wat ʼn dorp in die landelike Ituri-provinsie van Oostelike DRK is, was een van die dodelikste aanvalle tot dusver hierdie jaar op Christene in sub-Sahara Afrika.

Altesaam 49 Christene, insluitende nege kinders, in die DRK is afgemaai in ʼn aanval met kapmesse in wat deur ʼn Geopende Deure-woordvoerder as ʼn “moordtog” beskryf word in die vroeë oggendure op Sondagoggend, 27 Julie, tydens ʼn gebedswaak by ʼn Katolieke kerk. ʼn Verdere 20 kinders is ontvoer. Nabygeleë ondernemings, winkels en huise is ook geplunder en aan die brand gesteek.

Die slagoffers is in ʼn lokval gelei deur militante van die Geallieerde Demokratiese Magte (ADF), ʼn Islamitiese rebellegroep wat met die Islamitiese Staat-groep geaffilieer is. Die Islamitiese Staat het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar deur ʼn boodskap wat op hul Telegram-kanaal geplaas is.

Bronne van die Verenigde Nasies (VN) het gerapporteer dat verskeie ander liggame in uitgebrande huise en ondernemings naby die kerk waar die gebedswaak gehou is, gevind is.

Spoor van die dood
ʼn Plaaslike kerkvennoot van Geopende Deure wat na die toneel gehaas het om die oorlewendes te help, deel die volgende: “Sommige gelowiges is in die kerksaal doodgemaak. Dié wat probeer vlug het, is by die deur voorgekeer en op die terrein afgemaai. Ander wat dit tot by die pad gemaak het, is ook gevang en doodgemaak.”

Een van die oorlewendes, Darios*, het aan Geopende Deure se vennote vertel: “Die aanvallers het by Komanda ingestorm en al my besittings verbrand. Die klere wat ek aan het, is nou eers vir my gegee.”

Nog ʼn oorlewende, Antoinette, het huilende vertel dat haar ouma, wat haar versorger was, in die aanval doodgemaak is. “Ons is verskriklik hartseer,” sê sy.

Komanda is slegs een van verskeie plekke wat die ADF daardie noodlottige naweek geterroriseer het. Hulle het ook vier Christene in Machongani doodgemaak en ʼn huis daar aan die brand gesteek. In Ngeleza (13km vanaf Komanda) het hulle twee mense en hul drywer aangeval, waarna hulle met kapmesse vermoor is en hul motorfiets aan die brand gesteek is.

Noodleniging deur Geopende Deure-vennote
Groepe Geopende Deure-vennote in die DRK het na Komanda gereis en verskaf nou noodleniging, medisyne en traumaberading aan mense wat die aanval oorleef het.

Die DRK is in posisie nommer 35 op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys van die 50 gevaarlikste lande in die wêreld om ʼn Christen te wees.

Die nuutste voorval volg op ʼn massamoord in Noord-Kivu in Februarie, waartydens ʼn beraamde 70 Christene in ʼn kerkgebou onthoof is. Volgens Illia Djadi, Geopende Deure se senior navorser oor godsdiensvryheid in sub-Sahara Afrika, het die aanvalle sedertdien voortgeduur en kort-kort opgevlam.

Hy sê: “Die moorde is baie strategies. Weerlose landelike boerderygemeenskappe, waar daar geen sekuriteit is nie, word aangeval. Die aanvallers gebruik meestal kapmesse om mense te onthoof, en die aanvalle vind in die middel van die nag plaas om te voorkom dat dit aandag trek. Die slagtings vind van dorp tot dorp, gemeenskap tot gemeenskap, plaas.”

Christene in die Demokratiese Republiek van die Kongo wat kos en noodleniging by Geopende Deure ontvang het.

Menslike koste van geweld
“Die onmiddellike en langtermyn menslike koste van die geweld moenie toegelaat word om op hierdie manier voort te gaan nie,” sê Jo Newhouse, verteenwoordiger vir Geopende Deure se werk in sub-Sahara Afrika. “Alle mense het die reg op beskerming, ongeag hul geloof, etnisiteit of geslag.

“Ons doen ook ʼn beroep op die internasionale Christen-gemeenskap om aan te hou bid oor die voortslepende onsekerheid in Oostelike DRK. Bid vir ʼn einde aan die Islamitiese radikale geweld, en dat die regering die geweld en gevolge daarvan ywerig, onpartydig en deursigtig sal aanspreek. Bid vir voorsiening vir die Kerk in Oostelike DRK terwyl dit daarna streef om fisiese en geestelike bystand te bring aan diegene wat hierdeur geraak word.”

Geopende Deure is ʼn stem vir meer as 380 miljoen vervolgde Christene in meer as 70 lande regoor die wêreld. Dié organisasie is tans besig met sy Arise Africa-veldtog, wat ʼn meerjarige reaksie is op die aanhoudende geweld wat teen Christene in sub-Sahara Afrika gepleeg word. Die veldtog, wat in samewerking met Christelike leiers regoor sub-Sahara Afrika aangepak word, is daarop gemik om die Afrika-Kerk in staat te stel om sterk te staan in hul geloof waar vervolging die ergste is.

Geteikende aanvalle
Vivian van de Perre, adjunkhoof van die VN se vredesmissie, MONUSCO (Verenigde Nasies-organisasie Stabiliseringsmissie in die Demokratiese Republiek van die Kongo), het verklaar: “Hierdie geteikende aanvalle teen weerlose burgerlikes, veral in plekke van aanbidding, is nie net afgryslik nie, maar ook ʼn oortreding van alle menseregte-standaarde en internasionale humanitêre wetgewing.”

Volgens die Vereniging van Evangeliste in Afrika (AEA) leef die Christen-gemeenskap in die DRK in vrees, met gelowiges wat te bang is om bymekaar te kom vir aanbidding en lofprysing. “Dit het normaal geword om te hoor dat ʼn familielid dood is. In sommige plekke kan gebed op sigself ʼn doodsvonnis wees,” deel een van die lede.

Die AEA, in samewerking met die Evangeliese Alliansie van die Kongo (ʼn sambreelorganisasie wat verskeie evangeliese kerke en denominasies in die DRK verteenwoordig), doen ʼn beroep op die globale Kerk om nie hul benarde situasie te vergeet nie en vra vir toenemende gebede, bewustheid en voorspraak. Hulle vra vir gekoördineerde ondersteuning vanaf Christelike organisasies wêreldwyd om beide die humanitêre en veiligheidsuitdagings wat kerke en burgerlikes in Oostelike Kongo in die gesig staar, aan te spreek.

Meer inligting

Vir meer inligting of om ʼn onderhoud te reël, kontak Elizabeth Botha, Geopende Deure se mediabeampte, by [email protected], (+27) 83 227 8164 of (+27) 11 888 9341.

Geopende Deure Suider-Afrika (ODSA) is deel van die Geopende Deure Internasionaal-bediening, wat vervolgde Christene in meer as 70 lande wêreldwyd ondersteun en bystaan met die lewering van Bybels en Christelike literatuur, besoeke aan vervolgde Christene, dissipelskap en opleiding, en die verkondiging en bevordering van bewustheid deur voorspraak.

Mediaverklaring uitgereik deur Elizabeth Botha

Mediabeampte: Geopende Deure Suider-Afrika

Tel: (+27) 83 227 8164 / (+27) 11 888 9341

E-pos: [email protected]

*Skuilname gebruik vir veiligheidsredes.

Back To Top
No results found...